Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Maak ʼn verskil – Dag 20

Herken en verwyder sonde en maak ʼn verskil

Bybelteks(te)

1 PETRUS 2

Die volk van God, gebou op die kosbare hoeksteen

1Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery.

1 PETRUS 2:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 8

44Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af 'n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen.

JOHANNES 8:44AFR83Maak oop in die Bybelleser

JEREMIA 17

9Die hart is bedriegliker as enigiets anders,

hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?

JEREMIA 17:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

ROMEINE 8

2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.

SPREUKE 12

22Die Here het 'n afsku van leuenaars;

Hy hou van betroubare mense.

SPREUKE 12:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 51

12Skep vir my 'n rein hart, o God,

vernuwe my gees en maak my standvastig.

PSALMS 51:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery.” 1 Petrus 2:1

God se standaard vir sy kinders in alle situasies en te alle tye is liefde. Hoekom sal iemand sy rug daarop draai? Miskien as gevolg van eiegeregtigheid wat tot huigelary aanleiding gee?

Indien jy al ooit die slagoffer van kwaadpratery, jaloesie, huigelary of bedrog was, sal jy weet dat liefde nie saam met sonde kan bestaan nie. In die teks sê Petrus aan sy lesers om die sonde wat God reeds in die tien gebooie verbied het, uit hulle lewens te verwyder.

Dink aan die vyandigheid teenoor die vrou wat owerspel gepleeg het: twee mense wat betrap is dat hulle hul eggenotes bedrieg het. ʼn Groep godsdienstige mense bring die een oortreder na Jesus om te veroordeel, maar hulle het haar reeds veroordeel en wil haar stenig. Hulle stel egter nie in die ander party belang nie (miskien sal hulle hom later beskinder?) Jesus ontbloot egter hulle huigelary toe hy die strik wat hulle vir Hom gestel het om Hom te toets omdraai deur vir hulle te sê dat die een wat sonder sonde is, eerste ʼn klip na haar moet gooi. Hoe sou ons gevaar het?

Ons almal sondig op verskillende vlakke en sal ook maar soos hulle moet wegloop as Hy ons daarmee konfronteer. Maar om van bedrog en huigelary in ons lewens ontslae te raak is moeilik want die wêreld word regeer deur “die vader van die leuen” (Johannes 8:44) en ons kern is ʼn “hart [wat] bedriegliker [is] as enigiets anders, hy is ongeneeslik.” (Jeremia 17:9) Maar wanneer ons die vyand en die probleem herken, kan ons dit beveg. Dit is ʼn positiewe stap in ons groei en kan ons versterk om standpunt teen die duiwel in te neem! En ons het die onderskraging van die Heilige Gees wat ons “vrygemaak [het] van die wet van sonde en die dood.” (Romeine 8:2)

Indien ons ʼn verskil wil maak, moet ons volkome eerlik wees met onsself om hierdie probleem aan te spreek. Dikwels voldoen ons nie eers aan ons eie standaarde nie. Sedert die eerste leuen worstel die mens met oneerlikheid omdat ons bang is vir straf, of as gevolg van trots of om iemand anders te beskerm. Ons moet onsself egter losmaak van die sonde en nie huigelaars wees wat ander veroordeel en dink dat ons niks verkeerd kan doen nie.

Jesus bevry ons van al ons sonde. Ons verantwoordelikheid is om uit die versoeking te bly, selfs al kom dit deur gewone dinge wat op die oog af skadeloos blyk te wees, byvoorbeeld advertensies, televisie, sosiale media, ensovoorts. Ken jouself en jou swakhede.

In Spreuke 12:22 lees ons: “Die Here het ʼn afsku van leuenaars; Hy hou van betroubare mense.” Laat ons Hom eer en saam met Dawid bid: “Skep vir my ʼn rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.” (Psalm 51:12)

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS