Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Maak ʼn verskil – Dag 10

Afgesonder om ʼn verskil te maak

Bybelteks(te)

1 PETRUS 1

15Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

1 PETRUS 1:15-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

DIE OPENBARING 4

8Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was. Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê:

“Heilig, heilig, heilig

is die Here God, die Almagtige,

Hy wat was en wat is en wat kom.”

9Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, 10kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe. Hulle sit dan hulle krone voor die troon neer en sê:

DIE OPENBARING 4:8-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

HABAKUK 1

13U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word,

U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie!

Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie,

waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig

wat beter as hulle is?

HABAKUK 1:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

GENESIS 2

3Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.

LEVITIKUS 11

44Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig. Julle mag julle nie verontreinig met enige van die kleiner diertjies wat volop voorkom in die veld nie. 45Ek is die Here wat julle uit Egipte laat trek het sodat Ek julle God kan wees. Omdat Ek heilig is, moet julle ook heilig wees.

LEVITIKUS 11:44-45AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: ‘Wees heilig, want Ek is heilig.’ ” 1 Petrus 1:15-16

Moses het sy skoene uitgetrek want hy het op heilige grond gestaan; die Israeliete het gebewe toe hulle aan die voet van die Sinaiberg staan toe hulle die weerlig sien en die donderslae hoor toe God met Moses gepraat het; Jesaja was intens bewus van sy sonde en onwaardigheid toe hy God se heiligheid aanskou het (Jesaja 6) en in Openbaring lees ons van die vier wesens wat om God se troon vlieg: “Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê: ‘Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom’ (…) kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom …” (Openbaring 4:8,10b) Niemand kan God se heiligheid aanskou sonder om daardeur geraak te word nie.

Ek weet dat wanneer “heiligheid” op God betrekking het, dit in ʼn sekere sin heiligheid gekombineer met geregtigheid, reinheid, eerbied en ontsag insluit – ʼn hemelbreë verskil van wat dit beteken om mens te wees. Soms wanneer ek ʼn kerk binnegaan, is ek bewus van ʼn gevoel van ontsag vir die teenwoordigheid van die Een wat volmaak is en van wie Habakuk sê: “U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word …” (Habakuk 1:13) Ek ervaar sy teenwoordigheid ook op ander plekke, maar ek verstaan nie hoe enigiemand, behalwe God, heilig kan wees nie.

Ek sal my studielektor, ʼn Ortodokse Jood, altyd dankbaar bly vir sy eenvoudige definisie van heiligheid: om afgesonder te word. God self het hierdie idee van heiligheid ingestel toe Hy in die tyd van die skepping die sewende dag as ʼn rusdag afgesonder het: “Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het.” (Genesis 2:3) Dit het die dag anders en spesiaal gemaak, met elemente wat die lewe verryk.

Wanneer Petrus aan God se kinders skryf om heilig te lewe kom dit nie sommer uit die niet nie. In die voorafgaande verse van sy brief beklemtoon hy die belangrikheid van gehoorsaamheid en, omdat ons Christus ken, anders te leef. Hier herhaal hy God se opdrag aan die Israeliete: “Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig (…) Ek is die Here wat julle uit Egipte laat trek het sodat Ek julle God kan wees. Omdat Ek heilig is, moet julle ook heilig wees.” (Levitikus 11:44-45)

God roep almal wat Christus van sonde verlos het, om vir Hom alleen te leef en as sy kind van Hom te getuig, verryk deur die oorvloedige lewe wat Hy aan ons skenk. God wil dat sy kinders afgesonder word van sonde en onreinheid en Hy wil dat ons na sy waardes streef. Watter ouer wil nie hê dat sy kind as sy eie erken moet word nie?

Sal jy jou daaraan verbind om vir Hom van die sonde afgesonder te word?

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS