Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Maak ʼn verskil – Dag 11

Maak ʼn verskil deur heiligheid

Bybelteks(te)

1 PETRUS 1

16Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

1 PETRUS 1:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Daar staan immers geskrywe: ‘Wees heilig, want Ek is heilig.’ ” 1 Petrus 1:16

Stel jou voor, om van voor jou geboorte gekies te word om nooit jou hare te sny of alkohol te drink nie; of om in jou jeug uit jou land weg van familie en geloof na ʼn vreemde land geneem te word om daar ʼn leier te dien – een wat die krag van lewe en dood oor jou gaan hê. Of stel jou ʼn lewe in die woestyn voor met klere van kameelhaar en heuning en sprinkane as jou kos. Simson, Daniël en Johannes is almal op verskeie maniere afgesonder om die Here te dien. (Rigters 13; Daniël 1; Matteus 3)

Hierdie is voorbeelde in die Bybel van slegs ʼn klein groepie mense uit al die mense wat deur God geroep is, wat besonder heilig gelewe het. Alhoewel dit sonder twyfel vir elkeen van hulle moeilik was om so anders te wees, en as gevolg daarvan met die antagonisme van hulle tydgenote te doen gekry het, het hulle tog aan God se doel vir hulle lewens beantwoord. God rus altyd diegene toe wat Hy roep, en sy krag kom juis tot volle werking wanneer hulle swak is (2 Korintiërs 12:9).

Dink aan jou eie lewe. Is daar bewyse van hoe die Here jou afgesonder het vir Hom, of bewyse van iets wat jy gekies het om vir Hom te doen wat jou afsonder van jou tydgenote? Wanneer jy jou verbind om Christus te dien, sal jy besef dat daar nog dinge uit jou ou lewe is wat steeds jou aandag trek, maar wat jy moet agterlaat sodat jy volkome aan die Here toegewy kan wees. Paulus sê vir die Efesiërs: “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.” (Efesiërs 4:22-24)

Petrus se gebruik van die beeld van God se kinders as vreemdelinge, tydelike burgers van hierdie wêreld, help baie. Ons dra by tot die welstand van hierdie wêreld, ons het ʼn gesonde respek vir die owerheid en geniet alles wat goed is in die wêreld, maar as burgers van die hemel moet ons nooit vergeet Wie dit is wat ons dien nie, of ons waardes verloor en in ʼn kultuur wat God minag verval nie.

Heiligheid is ʼn opdrag, nie net ʼn voorwerp om tot ons wenslysies te voeg nie: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ʼn heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” (Hebreërs 12:14)

Laat ons alles in ons lewens wat tussen ons en God kom, verwyder; enigiets wat onheilig is. Laat ons fokus om dinge te ontdek wat ons meer soos Hy laat word. Ons moet Hom vra om ons bewus te maak van ons probleemareas, en dit dan een vir een uit ons lewens verwyder. Hy sal ons help om gehoorsaam te wees.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS