Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 9

Christene moet nou reeds hulle hoop prakties uitleef

Bybelteks(te)

MARKUS 1

Die genesing van 'n melaatse man

40Daar kom toe 'n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.”

41Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!”

42Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn en hy het gesond geword.

MARKUS 1:40-42AFR83Maak oop in die Bybelleser

Een van die films wat ʼn baie groot indruk op my gemaak het, is The Shawshank Redemption.

Die verhaal gaan oor ʼn jongman Andy – ʼn gewone mens soos ek en jy – wat heeltemal onskuldig in die tronk beland. Tog verloor hy nooit sy hoop op vryheid nie – al vermoor die hoofbewaarder die enigste getuie wat sy onskuld kon bewys. Na 20 jaar slaag hy daarin om te ontsnap en skep sy eie vryheid! Maar die verhaal se trefkrag lê nie daarin dat sy eie hoop bewaarheid is nie. Dit lê daarin dat hy gedurende die tyd in die tronk vir almal daar hoop gegee het!

Ten spyte van die haglike omstandighede in die tronk, het hy vir die mense daar ʼn nuwe lewensuitkyk gegee. Hy help hulle om ʼn biblioteek in te rig. Hy leer ʼn man lees en laat hom vir ʼn diploma inskryf. Hy help die bewaarders om hulle finansies te beplan. Hy wys vir sy medegevangenes dat ʼn mens kan hoop. Die film eindig dan ook waar ʼn man wat 40 jaar in die tronk was en altyd in Andy se optimisme getwyfel het, uiteindelik vrygelaat word en ook weer sin in sy lewe vind! Dit gebeur omdat Andy hom geleer het om te hoop!

In die teks vir vandag het Jesus by ʼn melaatse man betrokke geraak en vir hom hoop gegee.

Een van die grootste geskenke wat ons vir iemand kan gee, is om hulle te leer om te hoop. Hoop is nie net iets vir die toekoms nie, dit moet elke dag van jou lewe geleef word. Ons moet ander mense help om met hoop te lewe.

Soms moet ons mense help om hulle eie denke te verander, sodat hulle te midde van moeilike omstandighede die hoop kan raaksien. Jy leer mense om te hoop deur betrokke te raak by hulle seer en lyding. Dit is eers as ander weer liefde, omgee en betrokkenheid uit ons hande ervaar, dat hulle weet: Om te hoop is moontlik.

Jesus het ons geleer dat ons vandag reeds met hoop moet leef en dit met ander moet deel.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS