Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 8
Jesus se opstanding gee ʼn oorwinningslewe!
Bybelteks(te)
1 KORINTIËRS 15
Toe die kerkvader Polikarpus in die Middeleeue op die brandstapel vasgemaak is, is aan hom die belofte gemaak dat hy vrygelaat sou word indien hy ontken dat Jesus bestaan. Hierop het hy geantwoord: “Die Here Jesus is so goed vir my. Hoekom sou ek Hom verloën! Hy was bereid om vir my te sterf!”
Hoop is om in jou haglikste omstandighede en angstigste oomblikke steeds aan Jesus vas te hou omdat jy weet dat Hy met die opstanding die grootste oorwinning ooit behaal het. Jesus het vir jou en my ʼn nuwe lewe gegee. Hy het die dood en tydelikheid van die bestaan oorwin. Dit is hierdie oorwinningsingesteldheid wat jou in staat stel om die oorwinning oor baie versoekings, sondes en slegte gewoontes te behaal. Dit lei daartoe dat jy onverskrokke die liefde en geregtigheid van Jesus kan uitleef – niemand kan dit van jou wegneem nie. Dit is hierdie oorwinningsgesindheid wat Polikarpus in staat gestel het om sterk te staan en te weet die dood is oorwin –hy was nie bang daarvoor nie. Hy het geweet dat geen mens sy ewige lewe en die liefde van Jesus kon wegneem nie.
Soms moet Christene baie spot en antagonisme beleef omdat hulle getuienis van liefde en geregtigheid hulle anders maak as die wêreld. Die oorwinning van Jesus oor die dood stel ons in staat om nie vir die wêreld bang te wees nie. Ons kan opstaan en onbevrees die liefde en geregtigheid van Jesus aan almal uitdra. Die ergste wat jou op aarde kan tref, as jy soos Jesus leef, is die dood. En Jesus het dit reeds oorwin!
Jesus het waarlik opgestaan! Dit is die ongelooflike oorwinningsnuus van hoop wat ek weer vir julle wil vertel!