Loof Hom – Dag 18
Ondersoek jou hart by die Nagmaal
Bybelteks(te)
1 KORINTIËRS 11
Die hart van die mens is die wese van sy bestaan. Wat hy is, hoe hy dink, wat hy sê – dit alles kom uit sy hart. Die Spreukeskrywer beaam dit: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaak moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23).
As Paulus dus ʼn ernstige gesprek met die Korintiërs voer oor die gebruik van die Nagmaal, is dit nie vreemd dat sy eerste verwysingspunt na die toestand van hulle harte is nie. Hy weet dat die hart bedrieglik is bo alle dinge (Jeremia 17:9) en dat “verwaande mense oortree met die versinsels van hulle harte” (Psalm 73:7).
Om te verhoed dat hulle op onwaardige wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, versoek Paulus sy lesers om eers hulle eie harte deeglik te ondersoek, anders kan hulle dalk sondig teen die liggaam en bloed van die Here.
Waarvoor moet ons op die uitkyk wees wanneer ons die soeklig in ons harte skyn? Eerstens, maak seker dat jy nadink en baie goed verstaan wat die brood en die wyn werklik beteken. Die brood herinner ons aan Christus se offerliggaam en die wyn aan sy bloed wat aan die kruis gestort is sodat ons verhouding met God herstel kon word. Die vraag wat jy jouself dus moet afvra is: Het ek al sy geskenk van ʼn herstelde verhouding en ʼn splinternuwe lewe aanvaar?
Tweedens, getuig my leefwyse van hierdie herstelde verhouding en ʼn lewe met God? Voor jy “ja” antwoord, lees eers hier: Het jy God met alles in jou lief – met jou hele hart, siel, krag en verstand – en jou naaste soos jouself? Dit is immers die gebod wat alle ander omvat!
Dit is gewoonlik by die laaste gedeelte van die gebod waar ons weifel – ons het mense nie lief soos ons onsself liefhet nie. Ons sukkel om mense te vergewe, om hulle belange bo ons eie te stel, om die strydbyl te begrawe en geskille onbaatsugtig op te los. Sonder die gewilligheid om selfondersoek te doen en die Woord en die Heilige Gees toe te laat om lig te laat skyn op dié dinge wat nie tuishoort in ons lewens nie, loop ons die gevaar om op ʼn onwaardige wyse die Nagmaal te gebruik – met hartseer gevolge. Die oplossing? Ondersoek jou hart en raak ontslae van die ongewenste elemente!