Loof Hom – Dag 17
Beproef wat sy wil is
Bybelteks(te)
EFESIËRS 5
In die literatuur, die kunste, die mens se leefwêreld en selfs die natuur, word lig en duisternis meestal as teenoorgesteldes uitgebeeld. Kan jy jou indink om jou lewe lank in ʼn kerker opgesluit te wees en nooit die lig te sien nie? Aaklig! Neerdrukkend! ʼn Doodsvonnis in die duisternis sonder parool! Nie God se wil vir enige mens nie! Hy wil die kerker laat oopbreek sodat die lig die donkerte laat versplinter tot niks.
Dit is geen wonder nie dat ons regdeur die Bybel lees oor die impak wat die Lig – Jesus Christus – op ons lewens behoort te hê. As Christengelowige is jy ʼn mens van die lig, en dit vereis dat jou leefstyl jou geloof wat jy bely moet bevestig. Dit moet nuut en anders wees, sonder elemente van die nag waarin jy voorheen geleef het. Dít is die wil van God vir elke gelowige se lewe.
Om te weet watter dinge in ons lewens deur die lig versplinter moet word, moet ons “… beproef wat die Here welbehaaglik is” of, anders gestel, “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is” (Efesiërs 5:10). Om dit te ontdek moet ons selfondersoek instel en die waarheid in ons harte laat skyn om die donker kolle te verlig. Daarna moet ons bereid wees om, hoe ongemaklik dit ook al vir ons mag wees, die donker dinge deur lig te laat verdryf, want God se wil vir jou en my lewe is om te leef in die lig.
Paulus help ons in Romeine 12:1-2 om te ontdek wat God se wil is wanneer hy ʼn ernstige beroep op ons doen: Gee jouself aan God. Offer jou liggaam aan Hom. Wat eintlik bedoel word, is dat jy, jou eie ek, moet sterf. Dit is ʼn moeilike dood maar nie ʼn hopelose een nie, want in sy hande word jy lewend, heilig en aanvaarbaar vir Hom, en terselfdertyd ook diensbaar aan ander.
Moenie dink en leef soos die wêreld nie; moenie in jou gees aan die wêreld se standaarde voldoen nie.
Dink nuut, anders, en buite die boks. Hiervoor het jy hulp nodig – laat toe dat die Woord vastrapplek in jou hart kry en jou gedagtes vernuwe (Jakobus 1:21).
Die resultaat? Lig wat jou help om die wil van God te onderskei – die dinge wat goed, aanvaarbaar en volmaak is.