Bible Society of South Africa
Carina Francke

Loof Hom – Dag 19

Een ding kom kort (1)

Bybelteks(te)

MARKUS 10

21Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”

MARKUS 10:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Min mense op aarde koester nie heimlik die begeerte om eendag bekend of beroemd te wees nie. Miskien het dit te doen met ʼn soeke na erkenning, of om iets na te laat wat sal verseker dat ʼn mens nie vergeet word nie. Hoe dit ook al sy, die meeste mense is op soek na daardie één ding wat sukses en geluk in hierdie lewe beloof.

Daar was ʼn man wat alles in sy guns gehad het om vir ewig onthou te word. Hy was ʼn goeie, wetsgehoorsame burger, hy het die godsdienstige wette nagekom, hy het sy ouers geëer en hy was ryk, waarskynlik omdat hy ʼn suksesvolle sakeman was. Ten spyte van dié getuigskrif het hy tog gevoel iets ontbreek – die sekerheid van die ewige lewe. Toe hy Jesus hieroor vra, kry hy die bevestiging van wat hy reeds weet: “Een ding kom jy kort …” gevolg deur die teleurstellende en ontnugterende antwoord: “… gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes, en jy sal ʼn skat in die hemel hê. En jy, kom hier, volg My” (Markus 10:21).

Jy sien, sy persepsie van wat nodig was om vir homself ʼn belangrike en ewige plek te verseker, was gebaseer op sy eie prestasies en vermoëns. Dit was goeie werke wat ʼn beloning verdien. En toe kom Jesus en keer sy wêreld onderstebo  – goeie dade gaan oor meer as die nakoming van etiese en morele reëls. Dit loop hand aan hand met verhoudinge waar jy jouself en jou goed weggee uit liefde en nie omdat jy hoop om iets in ruil daarvoor te ontvang nie.

Om vas te klou aan aardse besittings, ʼn stokperdjie, ʼn beroep, status in die samelewing, harde werk of enige soortgelyke verganklike waardes, bied geen hoop of verwagting op wat die ewige lewe bied nie, want dit weerspieël nie die hart van God se wese nie – liefde. Jesus probeer dié waarheid by die ryk, goeie en wetsgehoorsame man tuisbring deur twee verhoudinge in sy antwoord te betrek. Eerstens, verkoop al jou waardevolle besittings en gee die geld aan die armes. Dit word die man se grootste toets vir liefde vir sy medemens, een waarin hy klaaglik misluk. Tweedens, gee jou posisie prys, gee jouself weg aan My, Jesus, en word my volgeling. Sy misplaaste liefde verhoed hom egter om dit te doen. Wat ʼn tragedie!

By ons Vader is niks wat ons op aarde kan vermag groter, belangriker of meer in aansien as die één opdrag waarmee Hy ons toevertrou nie, naamlik om Hom bo alles lief te hê én om ander mense lief te hê soos wat ons onsself liefhet. Liefde wat gee en dien is die antwoord tot grootheid.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS