Bible Society of South Africa
Carina Francke

Loof Hom – Dag 13

Swaarkry het ook voordele

Bybelteks(te)

FILIPPENSE 1

Bevordering van die evangelie ondanks gevangenskap

12Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. 13Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek 'n gevangene is. 14Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.

FILIPPENSE 1:12-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons hoor toenemend van Christene wat weens hulle geloof vervolg word. Hulle word in tronke gegooi, ontneem van hulle huise en besittings, en moet vlug vir hulle lewens. Sommige betaal die hoogste prys – hulle word soms op die wreedste maniere om die lewe gebring. In ons eie mooi Suid-Afrika beleef Christene nie sulke uiterste vervolging nie, alhoewel daar toenemend weerstand teen die Christelike geloof in staatsinstellings is.

Paulus het die volgende hieroor te sê: “God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly” (Filippense 1:29). Lyding in jou alledaagse lewe en lyding ter wille van Christus en jou geloof, word ook deur Jesus tydens die Bergrede aangespreek.

Hy stel dit baie duidelik dat daar vervolging sal wees omdat jy in geregtigheid wil leef en wil doen wat reg en eerbaar is. Hedendaagse voorbeelde sluit in: Slegte gevolge vir mense wat weier om omkoopgeld te betaal ten einde ‘n besigheidstransaksie te beklink – hulle word eenvoudig gemarginaliseer en kan nie ʼn inkomste verdien nie; sogenaamde fluitjieblasers word geviktimiseer en gebrandmerk, of moet gedurig oor hulle skouers loer.

Jesus sê egter dat mense wat reg doen, “geseënd” is en bemoedig hulle met ʼn belofte: “… want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matteus 5:10).

Hy waarsku ook dat gelowiges, ter wille van Hom, beledig en vervolg sal word, en van alles wat vals en sleg is beskuldig sal word (Matteus 5:11-12). So is Jesus byvoorbeeld ʼn vraat en dronkaard genoem, en Johannes die Doper is in die tronk gegooi omdat hy Herodes teregwys oor sy broer se vrou wat hy gevat het. In ons tyd word gelowiges wat geheelonthouers is, wat weier om deel te hê aan aktiwiteite wat die beeld van God in hulle kan skaad, of wat getuig oor die goedheid van die Vader, dikwels uitgekryt as skynheiliges of dwepers.

Maar dan volg Jesus se bemoediging en belofte: “Geseënd is julle … Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel” (Matteus 5:11a,12).

Paulus sluit aan by Jesus: “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ʼn heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Korintiërs 4:17-18).

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS