Loof Hom – Dag 14
Vrede met God in swaarkry
Bybelteks(te)
ROMEINE 8
Die heerlikheid wat kom
In die afgelope paar dagstukkies het ons gekyk na gelowiges se onvermydelike lyding, swaarkry en vervolging. Dit is egter nie swaarkry ter wille van swaarkry nie, maar hou die belofte van geestelike groei en beloning in.
In Romeine 8:19-21 wys Paulus ons op die heerlikheid waarna die mens en die skepping uitsien as hierdie aardse lyding vir eens en vir altyd iets van die verlede sal wees. Veral die skepping sug en verlang vurig dat die kinders van God bekend gemaak sal word. Jy sien, in óns bekendmaking sal die skepping self ook vrygemaak word van verganklikheid en sal dit ook die heerlike vryheid smaak waaraan God se kinders deel sal hê.
Paulus fokus dan op ons wat die Gees ontvang het:
Ons is ook sugtend terwyl ons uitsien na die dag van bevryding en bekendmaking, maar ons bly hoop (Romeine 8:24-25).
Op dae wanneer ons sukkel om die hoop te behou, los Hy ons nie alleen nie: “So kom die Gees ons ook in ons swakheid te hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie” (Romeine 8:26).
Ongeag slegte dinge wat met ons gebeur, het ons die versekering dat “God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet” (Romeine 8:28). Hoe dan anders? Hy hét ons immers vooruit gekies en bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word (Romeine 8:29), maar meer nog – ons is reeds vrygespreek en verheerlik (Romeine 8:30).
Deur ʼn paar kwelvrae en antwoorde daarop, beklemtoon Paulus God se onveranderlike en liefdevolle verhouding met ons:
“Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? … Wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek! Wie sal ons veroordeel? Dit is Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree” (Romeine 8:31,33-34).
En dan raak hy die hartvan God se wese aan wanneer hy vra:
“Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? … Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here” (Romeine 8:35,38-39).
Kortom: Te midde van jou beproewings en swaarkry, is God se liefde vir jou onwrikbaar! Hy is gereed om na jou toe uit te reik en jou te help!