Loof Hom – Dag 12
Vra raad
Bybelteks(te)
JOSUA 9
Vir baie mense is die blote gedagte om iemand om raad te vra onaanvaarbaar. Dit sou ʼn erkenning wees van swakheid, onkundigheid en afhanklikheid. En tog bring ander mense se insigte dikwels ʼn nuwe perspektief omdat dit vanuit ʼn ander hoek van kennis en ervaring bekyk en benader word. Spreuke 11:14 bevestig die wysheid van raadgewers: “As daar nie goeie oorleg is nie, val ʼn volk; maar in die veelheid van raadgewers is redding.”
Ervaring leer ons om nie die raad van mense sommer goedsmoeds te aanvaar nie, want mense kan foute maak en weet meestal nie wat God se pad vir jou lewe is nie. Daarom moet jy, voordat jy mense raadpleeg, eers leiding vra by die Een wat heerskappy oor jou lewe het.
Josua 8 – 9 beskryf ʼn stuk geskiedenis in die lewe van Israel wat wys hoe voordelig dit is as jy God eerste raadpleeg en daarna mense, maar ook hoe vernietigend dit kan wees as jy die Here glad nie raadpleeg nie.
Israel neem Jerigo op ʼn wonderbaarlike wyse in omdat hulle die plan van aksie wat God aan hulle gegee het, tot in die fynste besonderhede uitvoer. Kort daarna is Ai aan die beurt en op grond van wat die verkenners in Ai waargeneem het, besluit Josua en die manskappe om net drieduisend manne na die geveg te stuur. Fout! Hulle word verslaan en moet in vrees en skaamte van die vyand vlug.
Die les? Jy kan nie op vorige oorwinnings staatmaak om ʼn nuwe stryd of probleem aan te pak nie. Kry by God die bloudruk vir elke nuwe dag en en elke nuwe ooreenkoms, want jy weet nie altyd of daar tydens jou vorige sukses dalk iewers ʼn afwyking van die plan was nie. Josua raadpleeg God na die tyd en vind uit dat Agan God se opdrag oortree het – hy het gevat wat nie aan hom behoort nie. Eers nadat hulle met hom afgereken het, kon hulle Ai oorwin en die stad inneem.
Die sukses van Israel se oorwinnings maak die inwoners van Kanaän bang en wanneer mense bang raak, vlug hulle of beraam slinkse planne, soos die Hewiete van Gibeon. Hulle vermom hulleself as afgevaardigdes van ʼn ver land met verslete klere, ou kos en stukkende wynsakke om Josua te versoek om ʼn vredesverdrag met hulle te sluit. Hulle is so uitgeslape dat hulle selfs na die God van Israel verwys wat met wonderdade vir Israel uit Egipte gelei het. En die manne van Israel val vir hierdie truuk. Waarom? In Josua 9:14 lees ons: “… die mond van die Here het hulle nie geraadpleeg nie”.
Ek en jy kan nie bekostig om nie die Here te raadpleeg oor elke saak wat oor ons pad kom nie. Dit is slegs deur die leiding van sy Gees dat ons misleiding, leuens, skelmstreke en valsheid sal kan raaksien.