Loof Hom – Dag 11
Ken Hom in alles
Bybelteks(te)
SPREUKE 3
As volwassenes vertrou ons mekaar nie maklik nie, en met goeie rede. Ons stel mekaar teleur, misbruik vertroue om selfsugtige redes en is eenvoudig net onbetroubaar; daarom vertrou ons net ons eie oordeel, insig en kennis.
Gevolglik vind ons dit ook moeilik om God te vertrou met die groot en klein dinge in ons lewens. Ons moet egter verstaan dat die koninkryk van God ʼn omgekeerde orde is: Betoon liefde, nie haat nie; dien, moenie heers nie; gee weg, moenie opgaar nie; sterf, sodat jy kan leef. Dit impliseer dat jy jou totale menswees aan God toevertrou en dat jy onbeskaamd sal doen wat Spreuke 3:5-6 ons leer: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”
Hoekom op God vertrou? Want Hy is “Die Here, onse God, ʼn enige Here” (Markus 12:29) en “Ek is wat Ek is” (Eksodus 3:14).
Wanneer ons as gelowiges God waarlik vertrou, word ons sekerheid in Hom en sy vermoë ons sekuriteit. Dan wil ons Hom in elke besluit ken omdat ons weet Hy sal ons op die regte pad lei. Hy sal die pad vir ons reguit maak.
Die Hebreeuse verklaring vir “weë” dui op ʼn pad, ʼn roete of ʼn manier van doen. Dit suggereer spesifieke geleenthede wat herhaaldelik oor jou pad kom. Een voorbeeld van so ʼn geleentheid is die voorreg om elke dag voluit te kan leef. Dit is asof hierdie gedeelte ons wil aanmoedig om ons hele lewe lank, elke dag, aan God erkenning te gee en Hom in die wel en wee van elke dag te ken.
Hoe “ken” ons God in al ons weë? Volgens die NKJV Spirit-Filled Life Bible behels hierdie “ken en herkenning” ʼn “waarneming, ondersoek, refleksie of eerstehandse ervaring”. Die diepste vlak van “ken” lê egter in ʼn direkte, intieme verhouding met Hom – ʼn lewegewende intimiteit op geestelike vlak waar ons in daaglikse gebed met Hom kommunikeer. Dit is tydens gebed dat ons die dag se planne aan Hom voorlê en Hom vertrou om veranderinge te maak wat sy wil sal laat geskied, en seëninge en oorwinnings in ons en ander se lewens sal gee.