Loof Hom – Dag 10
Vertrou op die Here
Bybelteks(te)
JESAJA 50
God getuig van Job dat hy ʼn vroom en opregte man is wat Hom dien en die kwaad vermy (Job 1:8). En tog het dit nie verhoed dat hy in sy leeftyd swaar beproef was en baie gely het nie. Hy is beroof van al sy vee; sy veewagters is deur weerlig doodgeslaan; sy kinders is almal op een dag dood en boonop is sy liggaam ook met siekte aangetas. En toe draai sy vriende en selfs sy vrou hulle rug vir hom.
Job doen wat ons ook behoort te doen: Hy bekla sy lot by die Here. Hy verklaar ook sy onskuld voor Hom – iets wat jy ook mag doen as jy soos Job opreg leef en die Here liefhet. Job meen hy word onregverdig behandel, maar een ding doen hy nie terwyl hy met God in gesprek is nie: “Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie” (Job 1:22).
Slegte dinge gebeur ook met Christengelowiges, al is ons op ons gebroke manier opreg lief vir die Here en al gee ons die beste van onsself om Hom te dien. Dit is dikwels in hierdie swaar tye dat mense God se betrokkenheid in hul lewens bevraagteken en dat hulle wonder wat hulle verkeerd gedoen het dat sulke beproewing oor hulle pad kom. Dikwels vra hulle ook hardop of dit die moeite werd is om God te dien.
Die waarheid is dat ons geen waarborg het dat ons nié swaarkry sal ervaar nie. Inteendeel, die Woord leer dat beproewinge juis deel van ons geestelike wandel sal wees sodat ons geloof beproef kan word en ons kan leer om te volhard (Jakobus 1:3). Job besef hierdie waarheid – hy weet dat hy ly ten spyte daarvan dat hy ʼn regverdige is. Jy bevind jouself dalk ook in omstandighede wat onuithoudbaar vir jou geword het. Hou moed, want …
Buiten Job het Jesaja ook dikwels in wanhoop verval en dan gevra: “Wie is daar onder julle wat die Here vrees, wat na die stem van sy Kneg luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie?” En dan gee hy die antwoord: “… laat hy vertrou op die Naam van die Here en steun op sy God!” (Jesaja 50:10).
Hoor jy? Eerstens kan jy vertrou op die Naam van die Here, want “dit is ʼn sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut” (Spreuke 18:10). Tweedens kan jy steun op jou God. Hy is betroubaar, Hy is jou Helper, Hy hoor jou hulpgeroep en versterk jou, want Hy “is die enigste Here” (Markus 12:29).