Bible Society of South Africa
Neville Turley (en Mims Turley)

Lewenslesse uit die Bybel – Dag 6

Veg vir geregtigheid

Bybelteks(te)

SPREUKE 21

15As daar reg geskied, is mense wat reg doen, bly,

en staan dié wat onreg doen, verskrik.

SPREUKE 21:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Geregtigheid is nie iets wat ʼn mens maklik verkry nie. Dit neem egter ook net een persoon se sonde om ʼn hele volk in ellende te dompel en om pyn en lyding vir mense te veroorsaak. Akan was so ʼn man.

Akan was een van die mense wat onder leiding van Josua die stad Jerigo binnegeval het. Daar is aan die volk gesê dat alles in die stad aan die Here behoort. Josua het hulle beveel om niks te neem nie. Sou hulle dit doen sou hulle die oordeel van God oor Israel en oor hulleself bring. “Die silwer en goud en die brons- en ystergoed in die stad is alles aan die Here gewy. Dit moet in die skatkis van die Here kom” (Josua 6:19).

Akan was egter ongehoorsaam en het van die buit gesteel en as gevolg daarvan het die toorn van die Here teen Israel ontvlam (Josua 7:1). In hulle volgende geveg teen Ai moes Josua se manne op die vlug slaan en sowat 36 van hulle het in die geveg gesterf.

Josua en sy leiers het by die Here gepleit om aan hulle te openbaar hoekom Israel verslaan is. Die Here het hulle geantwoord: “Israel het gesondig en my verbond wat Ek hulle opgelê het, verbreek. Hulle het van die goed wat aan My gewy is gevat, hulle het gesteel, hulle het gelieg en van die goed by hulle sʼn gesit” (Josua 7:11).

Josua en die leiers het die 12 stamme byeengebring. Die stam van Juda is aangewys en toe Josua die families ondervra, het Akan uiteindelik sy skuld bely.

Josua se manne het die gesteelde goedere gevind wat Akan in sy tent begrawe het. Hulle het die goed uitgehaal en na Josua en al die Israeliete toe gebring en dit daar voor die Here uitgeskud (Josua 7:23).

Hulle het toe vir Akan en alles wat hy besit het asook die gesteelde goedere na die Akorlaagte toe geneem. Daar het hulle hom gestenig en hom en sy mense en sy besittings verbrand en hulle en die gesteelde buit met klippe toegegooi.

Eers toe het die Here se toorn bedaar.

Die lot van Akan herinner ons daaraan dat ons God ʼn God van geregtigheid is. Net soos Josua en sy leiers, moet ons ook standpunt inneem teen verkeerde dinge in ons samelewing. Edmund Burke (1729-1779), ʼn Britse staatsman en politikus, het op ʼn keer gesê: “All that is necessary for the triumph of evil is that good men do nothing.”

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS