Lewenslesse uit die Bybel – Dag 5
Staan vas in jou geloof
Bybelteks(te)
LUKAS 9
Orpa het in die tyd van die rigters geleef, ʼn tyd toe daar vrede tussen Israel en Moab geheers het. Sy was getroud met Kiljon, die seun van Naomi. Haar man en sy familie het vir ʼn tydperk van tien jaar in Moab gewoon. Naomi se man, Elimelek, hulle seun Maglon wat met Rut getroud was, en Kiljon het almal daar gesterf.
Daar was hongersnood in Israel en toe Naomi hoor dat die Here vir sy volk uitkoms gebring het deur vir hulle ʼn goeie oes te gee, het sy besluit om na haar tuisdorp, Betlehem, terug te keer.
Naomi het vir Orpa en Rut gesê dat hulle eerder na hulle ouerhuise moet terugkeer. Sy het toe gebid dat die Here hulle moet seën. Beide Orpa en Rut het egter geweier om Naomi te verlaat. “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe” (Rut 1:10).
Naomi het weer by hulle aangedring om na hulle ouerhuise toe te gaan. Rut was vasbeslote om nie om te draai nie en by Naomi te bly: “ … u volk is my volk; u God is my God” (Rut 1:16).
Orpa het egter besluit om terug te gaan na haar mense en hulle gode. Sy was in trane, maar het hulle gegroet en omgedraai. Orpa het vroeër gesê dat sy saam met Naomi wil gaan, maar uiteindelik was haar familie en hulle gode ʼn groter aantrekkingskrag.
Die Bybel vertel ons niks meer van Orpa nie, maar wel baie meer van Rut. Sy is met Boas getroud en was koning Dawid se oumagrootjie. Sy was ook een van Jesus se voorouers (Matteus 1:5).
Partykeer gedra ons ons soos Orpa. Ons wil doen wat reg is en godvresend leef, maar dan gee ons toe aan versoekings wat ons op ʼn verkeerde pad lei.