Bible Society of South Africa
Neville Turley (en Mims Turley)

Lewenslesse uit die Bybel – Dag 3

Wie was Vasti?

Bybelteks(te)

SPREUKE 19

21Al maak mense hoeveel planne,

wat die Here besluit, staan vas.

SPREUKE 19:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit is werklik ʼn fassinerende oefening om meer uit te vind oor persoonlikhede in die Bybel wat minder bekend is. Sommige is vandag steeds rolmodelle. Ander is weer perfekte voorbeelde van hoe ons moet waak om nie soos hulle te word nie. En dan is daar diegene deur wie se besluite God gewerk het om sy volk te bewaar. Vasti was so ʼn persoon.

Vasti was getroud met koning Ahasveros wat geregeer het van Indië af tot by Etiopië. In die derde jaar van sy regering, het hy al die edelmanne en amptenare van sy ganse ryk, sowel as die leëroffisiere van Persië en Medië, na ʼn banket in sy paleis genooi. Vir ʼn volle 180 dae het hy hulle feestelik onthaal en al die rykdom en die prag en praal van sy koninkryk vertoon.

Daarna het die koning al die inwoners van Susan (sy vesting) uitgenooi om by sy gaste aan te sluit vir ʼn fees in die paleistuin wat ʼn volle week geduur het.

Dit moes die moeder van alle tuinpartytjies gewees het. Die tuin en binnehof was spesiaal versier en daar was silwer en goue rusbanke. Die wyn is uit goue bekers bedien en almal kon drink soveel hulle wou (Ester 1:7-8).

Op die sewende dag het die koning, baie vrolik van al die wyn, beveel dat Vasti voor hom en sy aangeklamde gaste moet verskyn. Hy wou vir almal wys hoe mooi sy is.

Vasti het egter geweier. Die koning was woedend. Hy was kwaad omdat sy hom nie met die nodige eerbied behandel het nie. Na raadpleging met sy raadgewers is daar besluit dat haar gedrag onvergeeflik was. Die koning het ontslae geraak van Vasti en haar uit sy paleis verban.

Vasti se minagting van die koning se bevel sou verreikende gevolge hê. Ester, ʼn Jodin, het koningin geword en haar oom, Mordegai, uiteindelik die koning se minister. Sy het ʼn plan om al die Jode te laat uitroei, gefnuik. Die koning het boonop aan die Jode die reg gegee om hulleself teen hulle vyande te verdedig. Dit is gedoen en die Joodse nasie het behoue gebly. Vyf honderd jaar later is God se belofte aan Abraham vervul dat in hom al die volke van die aarde geseën sal word (Genesis 12:2-3) met die geboorte van die Messias in Betlehem.

God se plan dat alle mense deur Jesus Christus geseën sal word, het geseëvier.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS