Bible Society of South Africa
Neville Turley (en Mims Turley)

Lewenslesse uit die Bybel – Dag 2

Die misdadigers wat saam met Jesus gekruisig is

Bybelteks(te)

LUKAS 2

34Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word. 35So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.”

LUKAS 2:34-35AFR83Maak oop in die Bybelleser

Simeon se profesie oor die baba Jesus is deur die eeue heen bekend, en is reeds baie duidelik bevestig deur die woorde van die twee misdadigers wat saam met Hom gekruisig is.

Ons weet baie min oor die lewens van dié twee mans. Ons weet wel dat hulle misdadigers was. Volgens Romeinse reg is iemand wat skuldig bevind is aan sekere grusame misdade tereggestel, met ander woorde, finaal uit die samelewing wat hy te na gekom het, verwyder.

Die regstelsel was egter nie volmaak nie. Indien die Romeinse amptenaar wat die saak moes verhoor nie onpartydig was nie, of toegegee het aan druk van buite, was dit moontlik dat ʼn onskuldige gevangene skuldig bevind en tereggestel kon word.

Vanuit die gesprek tussen die twee misdadigers is dit duidelik dat hulle, ander as Jesus, ʼn regverdige verhoor en verdiende straf ontvang het vir die misdade wat hulle gepleeg het. Die houding van die twee, toe hulle in pyn was en Jesus aangeroep het, was egter in direkte kontras.

Die een misdadiger het Jesus beledig: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” (Lukas 23:39). Die ander een het hom berispe en gesê: “ … hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus, wat intense pyn beleef het en die sondes van die hele wêreld op Hom gehad het, het egter steeds tyd gehad om hierdie man te antwoord met ʼn belofte: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Lukas 23:43).

ʼn Mens kan nooit neutraal teenoor Jesus staan nie. Óf jy is vir Hom, óf jy is teen Hom. Die verhaal van die twee misdadigers aan die kruis openbaar God se groot genade aan ons. Selfs as ʼn mens vir Jesus op jou sterfbed aanroep, sal Hy daarop reageer.

Ons weet egter nie wanneer ons gaan sterf nie. Enigeen van ons kan skielik in tragiese omstandighede sterf. Ons kan gaan slaap en nooit weer wakker word nie. Die tyd om jou tot Jesus te wend en die Here se belofte jou eie te maak, is nou “ … want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Romeine 10:13).

Bible Society of South Africav.4.27.6
VOLG ONS