Bible Society of South Africa
Neville Turley (en Mims Turley)

Lewenslesse uit die Bybel – Dag 11

Bileam en sy pratende donkie

Bybelteks(te)

ROMEINE 8:41AFR83Maak oop in die Bybelleser

Bileam was ʼn waarsêer van formaat wat ook oor die krag beskik het om seëninge of vervloekings oor mense uit te spreek. Toe die Israeliete onderweg na die beloofde land deur Moab getrek het, was hulle koning Balak vreesbevange. Hy was bang dat die hordes Israeliete hom van sy grond sou beroof.

Uit desperaatheid het hy ʼn afvaardiging gestuur om Bileam te gaan huur om te kom om die Israeliete te vervloek sodat hy hulle uit sy land kon verdryf.

Maar God het vir Bileam gesê: “Moenie met hulle saamgaan nie. Jy mag dié volk nie vervloek nie, want hulle is geseën” (Numeri 22:12). Bileam het geweier en die afvaardiging terug na Balak gestuur.

Die koning het egter volgehou en ʼn tweede afvaardiging gestuur. Hy het beloof om Bileam ruim te vergoed as hy saam met die afvaardiging kom. Uiteindelik, nadat Bileam ʼn nag daaroor nagedink het, het hy ingestem om saam te gaan.

Op pad het Bileam se donkie ʼn Engel van die Here gesien wat die pad versper en hy het uit die pad weggedraai. Bileam het die donkie geslaan. Later, op ʼn smal pad, het die donkie weer die Engel gesien. Die donkie het teen ʼn muur geskuur en Bileam se voet daarteen vasgedruk. Die derde keer wat die donkie die Engel gesien het, het hy gaan lê en Bileam het die donkie weer geslaan.

Toe laat die Here die donkie praat, en die donkie sê vir Bileam: “Wat het ek jou aangedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?” (Numeri 22:28).

Dit was eers toe die Here Bileam se oë geopen het en hy die Engel van die Here self kon sien, dat hy besef het hoekom hy gekeer is. Bileam het geweet dat hy gesondig het en aangebied om terug te draai. Die Engel het hom egter beveel om saam te gaan, maar om net te sê wat die Here hom beveel.

Met sy ontmoeting met koning Balak het Bileam geweier om die Israeliete te vervloek, en het hy eerder die volk geseën met die woorde: “Geseën is hulle wat jou seën, vervloek is hulle wat jou vervloek” (Numeri 24:9).

Die verhaal van Bileam openbaar aan ons die wonderlike versekering dat God altyd sy kinders sal beskerm. Sy liefde hou ons in sy hand totdat Hy weer kom om ons saam met Hom te neem.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS