Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 9

eef gelukkig … terwyl jy God met jou drome vertrou

Bybelteks(te)

HANDELINGE 10

Petrus se toespraak by Kornelius

34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie,

HANDELINGE 10:34AFR83Maak oop in die Bybelleser

In 2001 het Goran Ivanisevic van Kroasië geskiedenis gemaak toe hy, as ongekeurde tennisspeler en slegs 125ste op die wêreldranglys in daardie stadium, tot die Wimbledon-eindstryd deurgedring en Patrick Rafter in vyf stelle geklop het.

In 2012 gebeur dit weer. Tot voor die eindstryd in die Wimbledon-mansdubbelspel het min mense van Jonathan Marray en Frederik Nielsen gehoor. Hulle opponente, Robert Lindstedt en Horia Tecau, die vyfde gekeurdes in die toernooi, was die gunstelinge om te wen. Hulle het immers die vorige twee jaar reeds agt kleiner toernooie saam gewen en in die 2012 Wimbledon-toernooi slegs een stel aan teenstanders afgestaan tot by die finaal. Dít teenoor Marray en Nielsen, wat as ongekeurdes tot die toernooi toegelaat is en vir die heel eerste keer saam in ʼn toernooi gespeel het. Groot was die verbasing egter toe die Brit en Deen, Marray en Nielsen, hulle teenstanders klop en as die nuwe kampioene gekroon word.

Wat is dit wat veroorsaak dat ons ʼn warm gevoel in ons harte kry wanneer ons sien dat die persoon of span wat geen kans gehad het om te wen nie, met die oorwinning wegstap? Of wanneer ʼn straatveër of vrugteplukker met ʼn sangtalent ontdek word en ʼn geleentheid gegun word om hulle talent aan die wêreld ten toon te stel? Of wanneer iemand ten spyte van ʼn gestremdheid of ʼn negatiewe diagnose van dokters steeds daarin slaag om berg Kilimanjaro te klim, die Ysterman-driekamp te voltooi of ander rekords op te stel? Is dit dalk omdat dit aan ons die hoop gee dat ons drome ook verwesenlik kan word as ons aanhou om op God te vertrou?

In Handelinge 10:34 sê Petrus: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie.”

Voor God is ons almal gelyk. Hy trek niemand voor nie. Hy het immers steeds vir Moses, ten spyte van sy spraakprobleem, gebruik om die Israeliete uit Egipte te lei. Hy het vir Ragab, ʼn prostituut, gebruik om ʼn kernrol in die Israeliete se geskiedenis te vervul. Hy het vir Saulus, die moordenaar en vervolger van Christene, ná sy bekering gebruik om die grootste gedeelte van die Nuwe Testament te skryf. En raai wat, God kan en wil jou ook gebruik!

Moet dus nooit dink dat jy nie goed genoeg is nie. Ook nie dat God nie van jou drome in jou hart weet nie. Hy het dit immers daar geplaas, nie waar nie? Wanneer ons ʼn intieme verhouding met Hom bou en ons ore oophou vir die stem van die Heilige Gees wat ons daagliks lei, mag ons ook dalk verstom staan oor wat Hy nog in en deur ons lewens gaan doen. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS