Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 8

Leef gelukkig … en gehoorsaam aan God

Bybelteks(te)

EKSODUS 20

5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

EKSODUS 20:5-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 14

Die Heilige Gees sal by julle bly

15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.

JOHANNES 14:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 112

Die regverdige sal nooit wankel nie

1Prys die Here!

Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien,

wat al sy vreugde vind in die gebooie van die Here.

2Sy nageslag is 'n sterk krag in die land,

die geslag van die opregte word geseën:

PSALMS 112:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Akan en Noag: Wat het hierdie twee mans gemeen?

In Josua 6 beveel God Josua en sy krygers om geen buit uit Jerigo te vat wanneer die stad ingeval word nie. Akan, een van die Israelitiese krygers, was egter ongehoorsaam aan God en hy het van die mooi klere, silwer en goud gevat en dit in sy tent gaan begrawe. Dít het God woedend gemaak. In die volgende veldslag waaraan die Israeliete deelneem, sterf 36 krygers. Vir Josua en die res van die krygers was dit ʼn geweldige skok. Het God dan nie beloof om hulle teen die vyand te beskerm en aan hulle die oorwinning te gee nie?

In Josua 7 lê Josua met geskeurde klere voor God en pleit vir ʼn antwoord. Hoe moes hy die situasie aan sy krygers verduidelik? Dan antwoord God: Die mislukte veldslag was die direkte gevolg van een man se ongehoorsaamheid aan Hom. Die volgende dag is Akan uit sy familie as die skuldige aangewys, en hy en sy gesin is saam met sy besittings verbrand. Een man se ongehoorsaamheid het ʼn hele nageslag beïnvloed.

In Genesis 6 lees ons dat die sonde van Adam en Eva se afstammelinge op aarde God só gegrief het dat Hy spyt was dat Hy ooit die mens gemaak het. Hy was op die punt om mens en dier te vernietig, maar toe sien Hy vir Noag – ʼn regverdige man. Onder sy tydgenote was Noag onberispelik en hy het naby God geleef.

Noag se gehoorsaamheid het daartoe gelei dat God hom opdrag gegee het om ʼn ark te bou waarin hy en sy familie en ʼn uitgesoekte hoeveelheid diere kon skuil tydens die sondvloed terwyl die res van lewe op aarde verwoes is. Een man se gehoorsaamheid het sy gesin se lewens gespaar en aan hulle ʼn blink toekoms verseker.

Van Genesis tot Openbaring word die belangrikheid van gehoorsaamheid aan God beklemtoon. In Eksodus 20:5-6 sê God: Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.” In Johannes 14:15 sê Jesus aan sy dissipels: “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” En in Psalm 112:1-2 skryf die psalmdigter: Dit gaan goed met iemand wat die Here dien en wat baie lief is om te doen wat die Here sê. Sy nageslag sal belangrike mense wees in die land.”

Jou gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan God het ʼn invloed op jou nageslag. Maak dus tyd vir God. Onthou, al is jy die eerste gelowige in jou familie, kan jy ʼn streep in die sand trek en verseker dat jou nalatenskap vir jou kinders een van seën en nie van vloek is nie! Dít is immers die grootste erfporsie wat jy ooit kan nalaat. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS