Leef gelukkig … vandag – dag 10
Leef gelukkig … want God doen steeds wonderwerke!
Bybelteks(te)
MATTEUS 17
[Agtergrond: God doen vandag steeds wonderwerke. Hier is drie lesers wat daarvan getuig.]
Leser 1, Elton: “ʼn Paar jaar gelede was ons geskok toe ons uitvind dat ons eenjarige seuntjie, Joah, ʼn seldsame siekte het. Die siekte het veroorsaak dat sy rooibloedselle ʼn onnatuurlike vorm aanneem wat deur sy milt afgebreek word. In die proses het sy rooibloedselle verminder terwyl sy milt vergroot het – wat albei afsonderlike komplikasies veroorsaak het.
Ons skok en hartseer was groot! Hoe kon ons klein babatjie siek wees? En hoe gaan dit ons en sy lewe beïnvloed? Ons het by God gesmeek vir volkome genesing vir ons kind. In hierdie tyd het ons telkens beleef hoe God ons te midde van die storm van sy teenwoordigheid bewus gemaak het.
Drie maande later het Joah ʼn bloedoortapping ondergaan en toe ons hom daarna terugneem dokter toe, was sy rooibloedseltelling normaal. Ek kan God nie genoeg dank dat Hy ons gebede beantwoord het nie. Hy is waarlik almagtig.”
Leser 2, Barbara: “My ouers woon op ʼn plaas in die Bethal-omgewing. Een Sondagoggend ʼn paar jaar gelede het ʼn man aan hulle voordeur geklop en geld gevra. My pa het gesê dat hy nie geld by hom het nie, maar dat hy wel vir die man kos sou gee. Hy het na die kombuis gestap om die kos te kry. Toe hy terugkom by die voordeur het die man hom met ʼn vuurwapen gedreig. Die aanvaller het my pa beveel om op sy maag op die grond te gaan lê. My pa het dit gedoen, maar op sy rug gedraai en die aanvaller reguit in die oë gekyk. My ma het die hele gebeurtenis geskok dopgehou van waar sy buite die huis agter die druiweprieel geskuil het.
Terwyl die aanvaller die vuurwapen op my pa rig, het my pa aangehou bid dat God hom sou beskerm. Die aanvaller het ʼn paar keer die sneller van die pistool probeer trek, maar niks het gebeur nie. Toe hy dit besef, het hy in vrees omgedraai en weggehardloop. My ouers het die boeregemeenskap en die polisie ontbied. Die aanvaller is later deur die polisie in die landerye nie ver van die huis af nie, aangekeer waar hy op die polisie geskiet het – met dieselfde pistool wat hy vroeër op my pa gerig het! Ek dank God dat Hy daardie dag by my ouers op die plaas was en ek twyfel nie vir ʼn oomblik dat wonderwerke vandag nog gebeur nie!”
Leser 3, Paula: “ʼn Paar jaar gelede was daar ʼn ander vrou in my man se lewe. Dit was vir my geweldig traumaties en in ʼn stadium het ek onder die druk geswig en weens ʼn ineenstorting in ʼn kliniek beland. Alhoewel ons nie deur ʼn egskeiding is nie, het my man nie meer sy trouring gedra nie. Dit het in ʼn houertjie in ons huis gelê. Ek wou dit laat smelt het, maar iets het my gekeer. Dit is immers vir my die mooiste ding as ʼn man trots sy trouring dra.
Ná jare se gebede waarin ek vir God gevra het om my man aan te raak en met hom te doen soos Hy wil en nie net soos ek wil nie, het my man besluit om ʼn mannekamp by te woon. Ek sal nooit ooit die Sondag vergeet toe ek van die kerk af teruggekom en hom vir die eerste keer ná die kamp sien nie. Daar was trane in sy oë toe hy my omhels en vra waar sy trouring is. Hy wou dit weer dra.
Na ʼn baie lang tyd het God my gebede beantwoord. My man het sy hart vir God gegee en waarlik vir Hom begin leef. My kinders het ʼn nuwe pappa en ek is van vooraf verlief op en lief vir my man. Moet dus nooit ophou bid vir jou huweliksmaat nie. By God is alles moontlik!”
Elton, Barbara en Paula is reg. God doen steeds wonderwerke. In Matteus 17:20 sê Jesus immers: “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos ʼn mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” Kom ons neem ons uitdagings na God. Hy kan en wil sy grootheid aan ons kom demonstreer. Sterkte.