Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 4

Leef gelukkig … met bonatuurlike geloof

Bybelteks(te)

PSALMS 40

2Ek het gesmag na die hulp van die Here.

Hy het na my toe afgebuig

en my hulpgeroep gehoor.

3Hy het my uitgetrek uit die put van die dood,

uit die slymerige modder,

my op 'n rots laat staan

en my weer op vaste grond laat loop.

4Hy het my 'n nuwe lied in die mond gelê,

'n loflied vir ons God.

Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring,

hulle sal op die Here vertrou!

PSALMS 40:2-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

JEREMIA 32

27Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?

JEREMIA 32:27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek ontvang op ʼn keer ʼn e-pos van ʼn leser wat skryf: “My hart voel absoluut dood. Geen emosie; net ʼn hart wat klop.” Is dit hoe jy vandag voel? Probeer jy met al jou krag vorentoe beweeg, maar dit voel asof ʼn onsigbare muur jou stuit? Of dalk probeer jy terugdraai na die verlede om ander besluite te neem, maar ook daar is ʼn muur wat jou keer? En om dinge te vererger, voel dit asof jy in ʼn modderige put staan met mure wat jou van alle kante wil vasdruk om die lewe en vreugde finaal uit jou uit te pers?

Dít is hoe Sadrag, Mesag en Abednego moes gevoel het toe hulle voor die vuuroond staan. Hulle het vir God standpunt ingeneem deur nie voor die afgodsbeeld te buig nie, maar nou het hulle die dood in die gesig gestaar. So ook Abraham en Sara. Hulle het God se belofte van ʼn baba vertrou, maar was reeds verby die ouderdom wat dit menslik moontlik was om kinders te hê. Dan was daar ook die vrou met die bloedvloeiingsprobleem. Sy het vir jare dokters besoek en gebid vir genesing, maar steeds het niks gebeur nie.

Wat is die krisis wat jou vandag verlam? ʼn Ongelowige huweliksmaat? ʼn Finansiële krisis wat vererger? ʼn Siekte? Slegte nuus wat jou fondament skud? ʼn Krisis in die werkplek waarvoor jy verantwoordelik gehou word? Of dalk die verlies van ʼn geliefde wat verhoed dat jy vorentoe beweeg?

Luister na Psalm 40:2-4 waar die psalmdigter ons daaraan herinner dat God ons uit enige donker put kan trek: “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ʼn rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my ʼn nuwe lied in die mond gelê, ʼn loflied vir ons God.” Ook in Jeremia 32:27 sê God: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?”

Sadrag, Mesag en Abednego het beleef hoe God hulle sonder ʼn geskroeide haar uit die vuuroond red – omdat hulle nie hulle geloof in Hom verloor het nie. God het ook sy belofte aan Abraham en Sara gehou en aan hulle ʼn baba gegee – omdat hulle nooit moed opgegee het nie. En die vrou met die bloedvloeiingsprobleem het met net een aanraking aan Jesus se kleed genesing ontvang – omdat sy met haar hele wese geglo het dat dit sou gebeur.

Wat is die wonderwerk waarvoor jy bid? Dalk is dit vandag die dag dat God afbuig, jou uit die put trek en op ʼn rots laat staan sodat jy Hom kan loof en prys vir jou deurbraak. Gaan jy aanhou om Hom daarvoor vertrou? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS