Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 3

Leef gelukkig … sonder versperrings in jou lewe

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

23“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, 24laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

MATTEUS 5:23-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 139

23Deurgrond my, o God, deurgrond my hart,

ondersoek my, sien tog my onrus raak.

24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie

en lei my op die beproefde pad!

PSALMS 139:23-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek was baie opgewonde toe ek teen die einde van my selfoonkontrak na ʼn nuwe foon kon opgradeer. Vir weke het ek al die verskillende selfone op die mark ondersoek totdat ek op ʼn foon besluit het wat videogrepe en foto’s van ʼn goeie kwaliteit neem.

Opgewonde is ek huis toe met my nuwe selfoon in sy verpakking. Dit sou die volgende oggend geaktiveer word sodat ek dit kon gebruik. Die volgende oggend vroeg het ek ʼn foto met my nuwe foon geneem. Tot my skok was die kwaliteit uiters swak. En toe ek die eerste oproep ontvang, kon ek skaars die persoon aan die ander kant van die foon hoor. Daar was groot fout!

Later die dag sou ek tot my skok en uiterste skaamte besef dat ek die beskermende houertjie wat ek die vorige dag vir die foon gekoop het, opgesit het sonder om die dun, beskermende plastieklagie voor die kamera en gehoorbuis van die nuwe foon te verwyder! Toe ek dit doen, was die kwaliteit van die foto’s perfek en kon ek duidelik die stem aan die ander kant van die foon hoor.

Versperrings in ons lewens, net soos die plastieklagie oor die foon, veroorsaak dat ons sukkel om die Heilige Gees se stem te hoor of dat ons met negatiewe oë na die wêreld rondom ons kyk. Hierdie versperrings kom voor in die vorm van ʼn grief teenoor ʼn vriend of vriendin wat jou seergemaak het, woede of jaloesie teenoor ʼn kollega by die werk, bitterheid of ʼn onvergewensgesindheid teenoor ʼn geliefde of selfs verwyte teenoor God omdat Hy nie jou gebed beantwoord het op die manier waarop jy gehoop het nie.

Jesus ken die gevaar van hierdie versperrings in ons lewens. Luister maar na sy woorde in Matteus 5:23-24: “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.” Ook in Psalm 139:23-24 skryf die psalmdigter: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ʼn weg is van smart, en lei my op die ewige weg!”

Watter versperring in jou lewe verhoed dat jy ʼn intiemer pad saam met God stap of sy Heilige Gees se stem in jou lewe hoor? Waarom vra jy nie vir God om jou te versterk sodat jy die “plastieklaag” in jou lewe kan verwyder om sy hartklop vir jou te hoor en sy visie vir jou lewe beter te kan sien nie? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS