Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 2

Leef gelukkig … te midde van ʼn teleurstelling

Bybelteks(te)

PSALMS 62

8God is my redding en my krag.

Hy is my rots, my sterkte,

God is my toevlug.

9Vertrou altyd op Hom, my volk,

stort julle hart voor Hom uit!

God is vir ons 'n toevlug. Sela

PSALMS 62:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

ROMEINE 8

28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

ROMEINE 8:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Wimbledon-tennistoernooi 2012: Rafael Nadal, die nommer twee-gekeurde, daag by die baan op vir sy wedstryd teen Lukas Rasol, wat die 100ste plek op die wêreldranglys beklee. Dit was ʼn uitgemaakte saak dat Nadal sou wen. Hy was immers reeds in 2008 en 2010 die Wimbledon-kampioen en het ook ʼn paar weke vroeër die Franse Ope-toernooi vir ʼn rekord sewende agtereenvolgende keer gewen. Dít teenoor die 26-jarige Tsjeg, Rasol, wat in sy Wimbledon-loopbaan vyf agtereenvolgende kere in die eerste rondte verloor het.

Groot was die skok egter vir toeskouers, sportkommentators en veral vir Nadal toe Rasol ure later die wedstryd wen. Met dié nederlaag, wat deur sommige as een van die grootste Wimbledon-skokke in die toernooi se geskiedenis bestempel is, was Rafael se droom om sy 12de Grand Slam-toernooi in te palm, aan skerwe.

Het jy jouself ook al in ʼn situasie van skok en teleurstelling bevind waarvoor jy net jouself kon blameer? Moses was al daar. Sy humeur het daartoe gelei dat hy binne ʼn dag van ʼn prins in die Egiptiese paleis verander het in ʼn misdadiger wat vir sy lewe vlug. Ook Jona het dit beleef. Sy ongehoorsaamheid aan God het hom van ʼn profeet met ʼn opdrag van God verander in ʼn man wat in ʼn vis se maag vasgekeer sit. Ook Dawid het dit ervaar. Een dag was hy nog die man ná aan God se hart. Die volgende dag was hy ʼn moordenaar wat owerspel gepleeg het.

Hoe hanteer jy teleurstellings in jou lewe? Keer jy soos Moses, Jona en Dawid terug na God? Bely jy jou sonde en aanvaar jy verantwoordelikheid vir jou optrede sonder om ander te blameer, terwyl jy op God vertrou om dinge (al is dit ook pynlik) ten goede te laat meewerk?

In Psalm 62:8-9 skryf die psalmdigter: “God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug. Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ʼn toevlug.” Ook in Romeine 8:28 lees ons: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Rafael Nadal het beslis nie sy raket weens een teleurstelling opgehang nie. Jy hoef ook nie moed op te gee wanneer jy misluk het nie. God kan en wil die moeilikste tyd in jou lewe gebruik om jou nader aan Hom te trek en sy grootheid aan jou te openbaar. Ook gebruik Hy hierdie tye om ons voor te berei vir wat dalk ons grootste deurbrake nóg in die toekoms mag wees. Gaan jy Hom daarvoor vertrou? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS