Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 21

Leef gelukkig … as ʼn vredemaker

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

9Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

EFESIËRS 4

26As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie. 27Moenie die duiwel vatkans gee nie.

EFESIËRS 4:26-27AFR83Maak oop in die Bybelleser

KOLOSSENSE 3

15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.

KOLOSSENSE 3:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vandag deel ek nog ʼn geheim met jou om gelukkig te leef: Word ʼn vredemaker.

ʼn Tyd gelede hoor ek iemand sê dat hy dink hy is aan vrede verslaaf. Waar hy voorheen altyd sy mening wou laat geld of ʼn argument wou wen, het hy besef dat die persoon wat vrede sy of haar doelwit maak en bereid is om eerste jammer te sê, die persoon is wat oor wysheid beskik – en die een is wat werklik as die wenner wegstap. Ek stem volkome saam.

Die wêreld mag vredemakers as swakkelinge bestempel, maar in Matteus 5:9 noem Jesus hulle kinders van God: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Die wêreld mag jou wysmaak dat jy alle reg het om ʼn wrok te koester, iemand uit jou lewe te sny of kwaad met kwaad te vergeld, maar in Efesiërs 4:26-27 lees ons: “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ʼn dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.”

Die wêreld mag jou ook wysmaak dat sukses alles is en dat dit nie saak maak hoeveel mense jy seermaak, hoeveel vyande jy maak of hoeveel brûe jy verbrand op pad boontoe nie, maar in Kolossense 3:15 lees ons: “En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.”

Beteken dit dat jy nooit met enigiemand mag verskil nie? Natuurlik nie. As daar ʼn saak is wat aangespreek moet word, doen dit, maar maak dit jou doelwit om die geskil uit te sorteer en versoenend op te tree, eerder as om die ander persoon seer te maak of potensieel ʼn gebroke verhouding agter te laat.

Met vrede in ons lewens neem ons beter besluite, het ons ʼn beter perspektief op moeilike situasies en kan ons God se stem duideliker hoor omdat ons nie toelaat dat griewe, bitterheid, vrees of aggressie ʼn houvas op ons kry nie. Dit is hierdie dinge wat versperrings in ons verhouding met God vorm.

Ek kan getuig dat vandat ek vrede die doelwit in my lewe begin maak het, ek groter geluk ervaar. Vandag is ek nie skaam om eerste die foon op te tel of na iemand te stap om jammer te sê nie – al was dit nié net ek wat verkeerd was nie. Ek vergewe baie makliker omdat ek die vyand geen houvas op my lewe wil gee nie. En ek kies om geen bitterheid in my lewe te kweek nie, maar die vrede van God my doelwit te maak.

Word dus ʼn vredemaker deur weg te kyk van jou eie selfsugtige behoeftes en jou oë op God te rig. Hy is soewerein en kan namens jou jou saak beveg. Maak vrede jou hoofdoel en selfs in uitdagende situasies kan ek jou waarborg, jy sal waarlik gelukkig kan leef! Sterkte!

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS