Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 20

Leef gelukkig … want God is naby aan ons in ons nood

Bybelteks(te)

DEUTERONOMIUM 31

8Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.”

DEUTERONOMIUM 31:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

DEUTERONOMIUM 33

27Die ewige God is 'n skuilplek,

sy arms is altyd onder jou.

Hy verdryf die vyand voor jou uit,

Hy beveel: ‘Roei uit!’

DEUTERONOMIUM 33:27AFR83Maak oop in die Bybelleser

[Agtergrond: God doen steeds vandag wonderwerke. Hier volg die getuienis van drie lesers.]

Leser 1, Louise: “9 Junie 2011 – ek wou selfmoord pleeg. Dit het nie goed gegaan met my huwelik nie, en ek was net moeg vir alles en almal. Ek het vier kinders. My dogter was op daardie tydstip 17 jaar oud, my seun 12 en my identiese tweeling twee. Ek was op pad van Witbank na Bedfordview, en ek het geweet dit is nou of nooit. Ek het my veiligheidsgordel losgemaak en vinniger begin ry. Die laaste keer wat ek na die snelheidsmeter gekyk het, het ek 210 km/h gery. Ek wou agter teen ʼn groot vragmotor vasry om te verhoed dat ʼn ander motoris se lewe ook geneem word.

Dit was nie lank voordat ek die eerste vragmotor langs die pad sien staan het nie. Ek het versnel en reguit op die vragmotor afgepeil. Net voordat ek die vragmotor sou tref het my tweeling se gesigte voor my verskyn. Ek het uitgeswaai en die vragmotor letterlik met millimeters gemis.

ʼn Paar kilometer verder het nog ʼn vragmotor langs die pad gestaan. Weer het ek versnel. Dié keer, net voordat ek die vragmotor sou tref, het ek die groot pienk woorde op die agterkant van die vragmotor gelees: ‘Driving for Jesus’. Ek het uitgeswaai en die vragmotor weer net-net gemis. Ek het langs die pad tot stilstand gekom en besef dat God my deur sy genade gekeer het om my eie lewe te neem.

Vandag sidder ek om te dink dat my kinders byna sonder my moes grootword. Ek dank God dat Hy my nooit verlaat of in die steek gelaat het nie. In Hom is daar altyd hoop, al voel jy hoe moedeloos!”

Leser 2, Ludrick: “My dogter, Thearine, was ʼn paar jaar gelede in ʼn baie groot motorongeluk. Sy het ernstige hoof- en interne beserings opgedoen. Toe die dokter die eerste keer met ons praat kon ek sien dat hy nie veel hoop het dat sy sal oorleef nie.

Ek en my vrou het onophoudelik gebid en vir God gevra om ons dogter te genees. Die breinchirurge van die Mediclinic, Bloemfontein het vroeër daardie jaar ʼn breinmonitorapparaat aangeskaf wat die drukking op ʼn pasiënt met breintrauma se brein, temperatuur en suurstofvlakke meet. Thearine was die eerste pasiënt wat aan die masjien gekoppel is.

Op die vyfde dag ná die ongeluk het dit baie sleg met haar gegaan. Die dokter het ons ingeroep en gesê ons moet vir haar bid en seker maak dat sy na die regte plek gaan as sy sterf. My reaksie was dat God haar nie sover gebring het om haar te laat sterf nie. Ons het aangehou om in gebed langs haar bed te waak. Teen tienuur daardie aand het haar toestand gestabiliseer.

Die volgende dag het die dokter vir ons gesê dat as sy nie aan die monitor gekoppel was nie, hulle die masjiene sou afgeskakel het aangesien haar lesings by tye tien keer hoër was as wat dit moet wees.

Ons Vader het ons kind aangeraak en haar genees. Vandag loop sy self (al is dit nog met krukke) en haar breinfunksie is volkome normaal. Waarlik, niks is vir Hom onmoontlik nie!”

Leser 3, Marina: “ʼn Paar jaar gelede was ek, my man en my suster op Pringlebaai vir die naweek. Die Saterdagoggend het ons besluit om in die see te gaan swem. Ons het besef daar is groot moeilikheid toe ʼn sterk seestroom ons van die strand af begin wegtrek. Ek het paniekerig begin raak en teen die stroom uit die see probeer kom, maar dit het my net moeg gemaak en ek het begin water sluk.

My man het strand toe geswem om hulp te gaan kry terwyl hy vir my en my suster skree om kalm te bly en te dryf. Ek het op my rug gedraai en opgekyk hemel toe terwyl ek vir God vra om my en my sussie te red. Twee mans het van die strand af ingehardloop om ons uit die water te kom red. Ek weet nie eens wat hulle name is nie, maar ek weet dat God hulle gestuur het om ons te help. Ons het later gehoor dat iemand wel daardie dag verdrink het en die wete dat dinge anders kon geëindig het, het ons hard getref.

Ek loof en prys die Here, my Redder, en ek besef dat Hy ons gespaar het om vir almal van sy grootheid en liefde vir ons te vertel. Prys Hom!”

Hierdie drie lesers is reg. God is by ons in die uitdagendste situasies in ons lewens. In Deuteronomium 31:8 lees ons: Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.” En in Deuteronomium 33:27: “Die ewige God is ʼn skuilplek, sy arms is altyd onder jou.” Maak Hom daagliks deel van jou lewe en weet vir seker: Hy sluimer en slaap nooit nie! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS