Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 19

Leef gelukkig … in tye van groot besluite

Bybelteks(te)

LUKAS 11

9“Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word.

JAKOBUS 4

2Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.

SPREUKE 3

5Vertrou volkome op die Here

en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.

6Ken Hom in alles wat jy doen

en Hy sal jou die regte pad laat loop.

SPREUKE 3:5-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

JAKOBUS 1

5As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. 6Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.

JAKOBUS 1:5-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 30

21Wanneer jy die regte koers verlaat,

sal jy agter jou 'n stem hoor sê:

“Hier is die pad, loop hierlangs.”

JESAJA 30:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ná dag 17 se dagstukkie waarin ek beklemtoon dat God vir ons deure in ons lewens oop- of toemaak om ons te beskerm, het heelwat lesers gevra hoe hulle kan verseker dat hulle besluite ooreenstem met God se wil vir hulle lewens.

Die meeste van ons het al in die een of ander stadium in ons lewens ʼn punt bereik waar ons groot besluite moes neem terwyl ʼn gevoel van besluiteloosheid skielik dreig om ons te oorweldig. Dalk was dit ʼn besluit in die werkplek, jou besluit om verloof te raak, om na ʼn ander stad te verhuis, om jou kinders na ʼn ander skool te verskuif of selfs iets klein soos watter foon jy moet kies toe jy na ʼn nuwe een kon opgradeer. Geen besluit is ooit vir God te groot of te klein dat ons Hom nie daaroor kan raadpleeg nie.

Die vraag is egter: Raadpleeg jy Hom vóórdat jy die besluit neem of lig jy Hom bloot agterna in, in die hoop dat Hy dit sal seën? Dink vir ʼn oomblik mooi oor die saak: Vra jy sy raad of lig jy Hom bloot in?

In Lukas 11:9 sê Jesus vir sy dissipels: “Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word.” Die groot probleem is egter dat ons nalaat om God deel van ons besluite te maak en daarom lees ons in Jakobus 4:2: “… julle het nie, omdat julle nie bid nie.”

Hier is drie stappe wat jou besluitnemingsproses in die toekoms kan vergemaklik:

STAP 1: VRA GOD OM JOU TE LEI

In Spreuke 3:5-6 lees ons: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” En in Jakobus 1:5 lees ons: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Ons kan dus vir seker weet dat God aan ons wysheid kan en wil gee – ons moet Hom net daarvoor vra.

STAP 2: LUISTER NA DIE HEILIGE GEES SE STEM

In Jesaja 30:21 vind ons die versekering dat die Heilige Gees met ons sal praat: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ʼn stem [die Heilige Gees] hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’ ” Hoe meer tyd ons in God se teenwoordigheid spandeer, hoe duideliker gaan ons sy Heilige Gees se stem leer ken. As jy nog onseker is of dit Hy is wat met jou praat, skryf wat jy in jou hart ervaar, neer en meet dit aan die Skrif. Die Heilige Gees se leiding is altyd in ooreenstemming met God se Woord.

STAP 3: VERTROU DIE VREDE IN JOU HART

God lei ons deur vrede in ons harte. Die vyand gebruik twyfel as sy wapen. As ons God dus vir wysheid gevra het en glo dat sy Heilige Gees ons lei, moet ons waak dat twyfel en vrees nie ʼn houvas op ons harte kry nie. In Jakobus 1:6 lees ons immers: “Maar ʼn mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ʼn brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.” As ons dus onrustig voel voor groot besluite, kan ons vir God vra om aan ons te openbaar of ons onrustigheid ʼn waarskuwing van Hom af is en of dit bloot die vyand is wat ons wil laat twyfel.

Kom ons kies om God vooraf te raadpleeg eerder as om Hom bloot van ons besluite in te lig. En as ons uit onkunde verkeerde besluite geneem het, is ons lewens nie verby nie. God is genadig. As ons met ʼn opregte hart na Hom toe gaan en Hom vra om ons te lei, mag ons dalk net beleef hoe Hy ʼn slegte situasie in ʼn regte situasie verander. Hy ken die toekoms en ons kan met ʼn geruste hart op Hom vertrou. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS