Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 1

Leef gelukkig … vandag

Bybelteks(te)

FILIPPENSE 3

13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

FILIPPENSE 3:13-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Daar is drie tipes mense: ʼn “gister-mens”, ʼn “môre-mens” en ʼn “vandag-mens”.

ʼn Gister-mens is iemand wat aan die verlede vasklem. Só ʼn persoon sal gereeld verwys na hoeveel beter dinge in die verlede was (al is dit ook ʼn illusie). Ook sukkel gister-mense om te vergewe omdat hulle nie die slegte dinge wat in die verlede aan hulle gedoen is kan óf wil opsy skuif en uiteindelik aanbeweeg nie. Verlede-mense loop die gevaar om een oggend wakker te skrik en te besef dat hulle hulself van kosbare tyd met geliefdes beroof het omdat hulle toegelaat het dat verwyte en bitterheid hulle lewens versuur.

ʼn Môre-mens is iemand wat hoofsaaklik op die toekoms fokus. Só ʼn persoon sukkel om tevrede te wees met wie hy of sy is en wat hulle het. Dít veroorsaak ʼn konstante gejaag na meer en beter omdat ʼn môre-mens glo dat groter sukses geluk sal bring. Hoewel dit goed is om doelwitte te stel en drome na te volg, is jy op die verkeerde pad as dit jou verhoudings met jou geliefdes negatief begin beïnvloed. Toekoms-mense loop die gevaar om een oggend wakker te skrik met ʼn studeerkamer vol bekers en toekenningsertifikate, maar niemand om dit mee te deel nie. Hulle lewens het by hulle verbygesnel sonder dat hulle die spesiale oomblikke in die hede raakgesien of benut het.

Dit bring my by vandag-mense. Dié groep mense is bewus van hulle teleurstellings en foute uit die verlede, maar hulle laat nie toe dat dit hulle gevange hou nie. Ook stel vandag-mense duidelike doelwitte vir die toekoms, maar hulle laat nie toe dat dit hulle só oorheers dat hulle die geleenthede om vandag ʼn verskil te maak, miskyk nie. Vandag-mense is bewus van die hartseer kollega in hulle kantoor, die bedelaar op die straathoek, die polisieman wat goeie diens lewer, die bejaarde wat hulp benodig om oor die besige straat te stap of die kind wat ʼn drukkie nodig het – en hulle kies om die persoon te wees wat die kompliment gee of die behoefte vervul. Vandag-mense leef elke dag gelukkig omdat hulle besef dat as die dag verby is, hulle dit nooit weer sal terugkry nie.

In Filippense 3:13-14 skryf Paulus: “Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

Kom ons leer uit die verlede en beplan vir die toekoms, maar kies om vandag gelukkig te leef deur elke geleentheid wat ons pad kruis om iemand anders se lewe beter te maak, aan te gryp. Só leef ons immer gelukkig, vandag.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS