Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 18

Leef gelukkig … te midde van ʼn gebroke hart

Bybelteks(te)

PSALMS 34

19Die Here is naby die gebrokenes,

Hy help die moedeloses.

PSALMS 34:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 147

3Hy genees die gebrokenes van hart

en verbind hulle wonde.

PSALMS 147:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 40

29Hy gee die vermoeides krag,

Hy versterk dié wat nie meer kan nie.

JESAJA 40:29AFR83Maak oop in die Bybelleser

Verskeie lesers het my gevra om iets te skryf oor hoe ʼn mens gelukkig kan leef ten spyte van die verlies van ʼn geliefde of ʼn gebroke hart.

ʼn Amerikaanse vlootveteraan wat drie toere na die Midde-Ooste meegemaak het, ʼn sesjarige dogtertjie wat pas leer swem het en ʼn man wat later sy liggaam as ʼn buffer vir die koeëls sou gebruik toe hy voor sy meisie en haar broer induik om hulle lewens te red: Dié drie mense, asook nege ander, het op Donderdagaand 20 Julie 2012 vir die laaste keer in die volgepakte rolprentteater in Aurora, Colorado in die VSA vir ʼn fliek reggeskuif. Dit was die middernagvertoning van die nuwe Batman-rolprent, The Dark Knight Rises.

Sowat ʼn halfuur nadat die rolprent begin het, het die 24-jarige James Holmes die teater met ʼn gasmasker, rookbomme en wapens betree. Nadat hy die rookbomme tussen die fliekgangers ingegooi het, het hy wild op die mense begin skiet. Agt-en-vyftig mense is gewond en 12 het op die toneel gesterf.

Terwyl Holmes, wat ná sy arrestasie na homself as die “Joker” van Batman verwys het, die daaropvolgende Maandag in die hof verskyn het, het familielede en geliefdes van die gestorwe fliekgangers kranse en emosionele briewe buite die rolprentteater neergelê.

My hart gaan uit na almal wat nooit weer die geleentheid sal hê om hulle geliefdes teen hulle vas te druk of vir hulle te vertel dat hulle hul liefhet nie.

Het jy ook vandag ʼn gebroke hart? Dalk is ʼn geliefde ook op ʼn gewelddadige manier van jou af weggeruk? Dalk het ʼn derde persoon jou huweliksmaat van jou afgerokkel? Of dalk moes jy ná ʼn lang siekbed onlangs langs ʼn geliefde se oop graf staan? Hierdie verliese laat ʼn kraak in ons harte wat net God kan genees. Luister gerus na sy beloftes wanneer jy weer deur ʼn moeilike tyd gaan.

God is naby aan ons wanneer ons harte gebroke is. Hy bring genesing en verbind ons wonde en wanneer dit voel asof ons nie meer vorentoe kan beweeg nie, is Hy soos ʼn wind van agter wat ons versterk en vorentoe dra.

Waar die dief kom om te steel, te slag en te verwoes, het Jesus gekom om vir ons ʼn oorvloedige lewe te gee. Kom ons kies dus om aan Hom vas te hou. Só sal ons beleef hoe Hy ons versterk en sterker aan die ander kant uitbring aangesien Hy ons nooit verlaat of in die steek laat nie! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS