Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 17

Leef gelukkig … te midde van teleurstelling

Bybelteks(te)

PSALMS 62

6Net by God vind ek rus,

want op Hom vertrou ek.

DIE OPENBARING 3

Die boodskap aan Filadelfia

7Skrywe aan die leraar van die gemeente in Filadelfia:

So sê die Heilige, die Ware God,

Hy wat die sleutel van Dawid het,

wat die deur oopsluit

en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie:

DIE OPENBARING 3:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Aan die begin van die laaste dag van die 2012 Britse Ope-gholftoernooi was dit byna ʼn uitgemaakte saak dat Adam Scott as die wenner uit die stryd sou tree. Nie net was hy die voorloper met vier houe nie, maar die wind het sterk gewaai wat dit moeilik sou maak vir die res van die spelers om hom in te haal.

Met slegs vier putjies oor, het Scott se kans om die titel te verower skielik begin verbrokkel toe hy vier brouhoue op die laaste vier putjies aanteken. Dié insinking was genoeg om plek te maak vir ons eie Ernie Els om die gesogte Claret Jug vir die tweede keer in die lug te hou en só ʼn viermalige major-kampioen te word.

Alhoewel Scott goeie sportmanskap getoon het deur sy medespelers se hande te skud en te glimlag, kon die absolute teleurstelling op sy gesig tydens die oorhandigingseremonie nie weggesteek word nie.

Dié teleurstelling het my laat dink aan die teleurstellings wat ons paaie soms onverwags kruis. Jy het dalk vir ʼn spesifieke pos aansoek gedoen. Jy was die gunstelingkandidaat, maar ʼn jonger kollega met minder ervaring is in die pos aangestel. Jy was oortuig dat jy die regte lewensmaat ontmoet het. Alles het reg gelyk en gevoel, maar toe word die verhouding beëindig. Of jy het iets vertrouliks met ʼn vriend of familielid gedeel en nou besef dat hulle nie jou geheim bewaar het nie.

Hoe hanteer jy hierdie teleurstelling? Verwyt jy jouself, of kies jy om die saak aan God oor te laat met die wete dat Hy in elke saak die laaste sê het? Hy ken die toekoms en ons kan waarlik in Hom rus vind. In Psalm 62:6 lees ons: “Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek.” Hy maak deure oop en sluit deure om ons te beskerm. Ons lees immers in Openbaring 3:7: So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie.”

Wanneer jy dus weer ʼn teleurstelling ervaar, kan jy gerus begin om God te dank. Omdat Hy die toekoms ken, is Hy besig om jou karakter te vorm. Dalk beskerm Hy jou tans teen trots of ʼn verkeerde besluit, of dalk gebruik Hy hierdie moeilike seisoen in jou lewe om jou karakter te versterk vir wanneer jy gereed is vir ʼn veel groter deurbraak. Onthou, God is goed en Hy wil altyd vir jou die beste hê. Jy kan dus maar op Hom vertrou om die regte deure op die regte tyd vir jou oop te maak! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS