Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 16

Leef gelukkig … al is jy die enigste gelowige in jou omgewing

Bybelteks(te)

2 KORINTIËRS 4

4Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is.

2 KORINTIËRS 4:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KORINTIËRS 6

Vermaning teen heidense invloed

14Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?

2 KORINTIËRS 6:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 KORINTIËRS 7

12Vir die ander sê ek – ek, nie die Here nie: As 'n gelowige man met 'n ongelowige vrou getroud is en sy gewillig is om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie. 13En as 'n vrou met 'n ongelowige man getroud is en hy gewillig is om by haar te bly, moet sy nie van die man skei nie. 14Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God. 15As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie. God het julle geroep om in vrede te lewe. 16Jy, vrou, weet immers nie of jy jou man sal red nie. Of jy, man, hoe weet jy of jy jou vrou sal red?

1 KORINTIËRS 7:12-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 PETRUS 3

Die gedrag van man en vrou teenoor mekaar

1-2Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om 'n woord te sê nie.

1 PETRUS 3:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Een van die vrae wat ek gereeld via e-pos van lesers ontvang, is hoe om gelukkig te leef as ʼn huweliksmaat ongelowig is, as hulle die enigste gelowige in die werkplek is of as hulle kinders besluit het om van God af weg te stap. Is dit jou vraag vandag?

Ek hoor op ʼn keer die storie van ʼn sendeling wat besluit het om onder ʼn spesifieke onbereikte mensegroep te gaan sendingwerk doen. Aanvanklik het hy gehoop dat hy ʼn tolk daar sou vind om die boodskap aan die mense oor te dra. Dit was egter nie die geval nie. Ná ʼn geruime tyd se gesukkel om te kommunikeer, het die sendeling besluit om homself buite die stat in ʼn hut te vestig. Daar het hy daagliks vir die mense gebid terwyl hy Jesus se karakter deur sy optrede aan hulle gedemonstreer het.

Kort ná die sendeling se dood, het ʼn ander groep sendelinge by die volk opgedaag. Met behulp van tolke het hulle die boodskap van Jesus Christus met die mense begin deel. Onmiddellik was die volk ontvanklik. Op die vraag of hulle dan al van Jesus Christus gehoor het, het hulle geknik. Een van die mans het na die sendeling se verlate hut gewys met die woorde: “Hy het dan daar gewoon!” Die sendeling se onbaatsugtige opoffering en gebede vir die volk het die saad gesaai wat daartoe gelei het dat hulle later Jesus Christus as hulle Verlosser gevind het.

Hoe lyk jou optrede teenoor die mense in jou omgewing? Inspireer jy hulle om meer van jou Verlosser te wil weet? Bid jy daagliks dat die Heilige Gees hulle harte en gedagtes vir die waarheid sal oopmaak? Dít is die geheim om gelukkig te leef – al is jy die enigste gelowige in ʼn omgewing.

WAAROM IS DIT MOEILIK OM ONGELOWIGES TE PROBEER OORTUIG OM TE GLO?

In 2 Korintiërs 4:4 lees ons dat Satan ongelowiges se verstand verblind vir die heerlikheid van Christus: “Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld [Satan] verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is.” Ons moet dus bid dat die Heilige Gees die sluier oor ongelowiges se harte en gedagtes wegtrek sodat hulle die waarheid kan ontdek.

WAT MOET JY DOEN AS JY MET ’N ONGELOWIGE GETROUD IS?

In 2 Korintiërs 6:14 word ons gewaarsku om nie met ʼn ongelowige te trou nie. As jy egter reeds getroud is en jou huweliksmaat word ongelowig, of jy kom tot bekering en jou huweliksmaat is steeds ongelowig, lees ons in 1 Korintiërs 7:12-16 dat jy nie onmiddellik moet soek na maniere om die huwelik te verlaat nie. Ons moet eerder die beginsel in 1 Petrus 3:1-2 volg: “Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ʼn woord te sê nie.”

Kom ons hou dus op oordeel en fokus vir ʼn slag op God. Hy kan namens ons die verandering in ons ongelowige huweliksmaat, kollegas by die werk en/of kinders se lewens bewerkstellig. Al wat ons moet doen, is om aan te hou bid dat die Heilige Gees die werk sal doen, dat God die regte mense oor jou geliefdes se pad stuur en dat Hy jou sal versterk om altyd in liefde op te tree. Jy mag dalk net verbaas staan dat Hy selfs die persoon met die hardste hart kan aanraak en verander in ʼn persoon wat vrygekoop is vir Hom. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS