Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 15

Leef gelukkig … want God doen steeds wonderwerke!

Bybelteks(te)

JESAJA 40

31maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.

Hulle vlieg met arendsvlerke,

hulle hardloop en word nie moeg nie,

hulle loop en raak nie afgemat nie.

JESAJA 40:31AFR83Maak oop in die Bybelleser

[Agtergrond: God doen vandag steeds wonderwerke. Hier is twee lesers wat daarvan getuig.]

Leser 1, Atel: ʼn Paar jaar gelede was ek baie moedeloos. Ek was oorgewig, het ʼn lae selfbeeld gehad en kon geen geskikte klere vind nie. Eendag, na vele mislukte diëte, het ek moedeloos besluit om met God oor die saak te gesels. Ek het Hom gevra om my met my gewigsprobleem te help aangesien ek weet dat my liggaam sy tempel is. In daardie stadium het ek nie ekstra geld gehad om by ʼn program aan te sluit wat my sou help om reg te eet nie.

My ma was vir ʼn rukkie weg met vakansie en ek het na haar hondjies by haar huis gekyk. Met haar terugkeer het sy vir my geld gegee. Alhoewel ek dit aanvanklik nie wou aanvaar nie, het sy daarop aangedring. Eers later sou ek besef dat dit, sonder haar medewete, presies die bedrag was wat ek benodig het om by ʼn gewigsverliesprogram aan te sluit.

Ek het met die program begin en vir die eerste keer gevoel dat God aan my bonatuurlike deursettingsvermoë gee om daarmee vol te hou.

Vandag is ek 35 kg ligter en lyk beter as ooit vantevore. Wanneer iemand my vra wat my geheim was om maer te word, is my antwoord eenvoudig: ‘Gebed werk!’ Ek weet dat dit nie deur my eie toedoen is dat ek gewig verloor het nie. God het my gehelp – en Hy help my steeds vandag om my ideale gewig te behou. Ons kan enige struikelblok voor Jesus se voete neerlê, want Hy wil ons daarmee help.”

Leser 2, Arina: ʼn Paar jaar gelede het ek my werk verloor. Dit het gevoel asof my lewe in duie stort. God het my egter gedra en gehelp dat ek en my kinders nooit honger gely het nie. In die laaste week wat die Werkloosheidsversekeringsfonds uitbetaal het, het ek ʼn nuwe werk gekry. Die salaris was heelwat minder as waaraan ek gewoond was, maar ek was dankbaar dat God vir my ʼn werk voorsien het.

Binne twee weke by my nuwe werk, het die bestuurder my potensiaal raakgesien en my ʼn stewige verhoging gegee. Drie maande later het hy my ingelig dat hulle na Nieu-Seeland gaan emigreer. Ek kon egter in my pos aanbly totdat ek iets anders gekry het. Gou het ek drie werksaanbiedinge gehad en my bestuurder het my help besluit watter pos my die beste sou pas. Eers later het ek besef dat my tyd by daardie maatskappy my selfvertroue in die werkplek herstel het.

Ná amper drie jaar by my huidige werk, het ek die geleentheid gekry om vir ʼn hoër pos aansoek te doen. Dit het uitstekend gegaan met die onderhoud. Ek is egter kort daarna ingelig dat die pos gevries is weens die maatskappy se herstruktureringsproses. Alhoewel ʼn paar mense in kennis gestel is dat hulle hul werk kan verloor, was my huidige pos en slegs een ander pos landswyd in die maatskappy veilig. Sou ek die hoër pos gekry het, sou ek heel moontlik weer aflegging in die gesig gestaar het.

God het my beskerm en ek weet sonder twyfel vandag dat Hy die toekoms ken en die beste vir ons wil hê.”

Atel en Arina is reg. God is liefde en Hy is betrokke in die detail van ons lewens. Geen saak is dus ooit te groot of te onbelangrik om met Hom te bespreek nie. In Jesaja 40:31 lees ons: “… dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” Kom ons vertrou Hom vandag om aan ons ʼn oplossing te gee – vir ʼn uitdaging in die werkplek of huisgesin is, oor die keuse van ʼn huweliksmaat of omdat jy sukkel om daardie ekstra paar kilogramme af te skud. As dit vir jou belangrik is, is dit ook vir Hom belangrik. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS