Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 14

Leef gelukkig … sonder bekommernisse

Bybelteks(te)

1 PETRUS 5

7Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

1 PETRUS 5:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 23

4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

MATTEUS 6

31“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.

MATTEUS 6:31-32AFR83Maak oop in die Bybelleser

FILIPPENSE 4

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gedurende die winter help ʼn jas om ons teen die koue te beskerm. Maar besef jy dat ons elke dag van die jaar een van twee jasse dra? Die een jas is lelik, swaar, donker en wollerig. Die ander een is lig en stylvol. Die Woord van God noem hierdie twee jasse “bekommernis” en “prys”.

Wanneer ons nalaat om vroegoggend die Heilige Gees in ons lewens in te nooi en te kies om met ʼn positiewe gesindheid ons lewe te benader, kies die vyand namens ons die swaar, donker en wollerige jas. Met dié jas van bekommernis fokus ons op die negatiewe elemente rondom ons. Ons sien die stygende werkloosheidsyfer of elektrisiteitspryse, die krisisse by die huis of werk of die hoë misdaad- en geweldsyfer. Hierdie dinge veroorsaak dat bekommernis, bedruktheid en vrees ons lewens oorneem terwyl ons lewensvreugde geblus word.

Die alternatief is om vroegdag die Heilige Gees in ons lewens in te nooi en Hom te vra om ons met ʼn positiewe gesindheid na situasies rondom ons te laat kyk. Met hierdie jas van prys is ons steeds bewus van die uitdagings en probleme in ons lewens, maar is ons meer bewus van God se grootheid en krag en sy vermoë om alles ten goede te laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet.

Watter jas dra jy vandag? Een wat jou aftrek en jou lewe versuur of een wat die mense rondom jou inspireer omdat hulle jou positiewe gesindheid begeer? As bekommernis vandag jou lewe oorheers, kan jy gerus aan hierdie beloftes van God vashou.

Werp vandag jou bekommernisse op God. Weet dat Hy jou deur elke donker situasie sal dra. Begin om jou geloof in Hom te plaas terwyl jy jou begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan Hom bekend maak. Doen jy dit, mag jy dalk beleef hoe jou swaar, donker, wollerige jas eensklaps op die grond val terwyl jy trots met ʼn ligte, stylvolle jas die toekoms instap! God weet reeds wat jy benodig en Hy sal dit op die regte tyd voorsien! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS