Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 13

Leef gelukkig … deur uit te reik na ander

Bybelteks(te)

SPREUKE 19

17Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here,

en Hy sal hom ten volle vergoed.

SPREUKE 19:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

SPREUKE 21

13As jy jou ore sluit vir die hulpgeroep van 'n arm mens,

sal jý ook nie antwoord kry as jý roep nie.

SPREUKE 21:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 25

40En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

MATTEUS 25:40AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vandag wil ek ʼn eenvoudige geheim tot geluk met jou deel. Is jy gereed? Hier is dit: Ware geluk begin by jou vermoë om jou eie selfsugtige begeertes opsy te skuif en ʼn ander persoon se lewe beter te maak. Is dit wat jy doen?

Om die bogenoemde beginsel te demonstreer deel ek met jou ʼn storie wat in 1936 by die Olimpiese Spele in Berlyn, Duitsland afgespeel het:

Die atletiekstadion in Berlyn was volgepak toe die swart Amerikaanse naelloper Jesse Owens vir die verspringitem aanmeld. Jesse het in daardie stadium reeds drie goue medaljes tydens die Spele verwerf. Die leier van die Naziparty, Adolf Hitler, se rassistiese invloed kon egter duidelik in die skare se vyandige houding teenoor die swart atlete op die Spele aangevoel word. Wat sake vir Jesse vererger het, was dat sy hoofopponent vir die goue medalje in die verspring die Duitser, Luz Long, was.

Jesse kon die teenstand aanvoel en meteens het die beledigings en vyandigheid van die skare die oorhand gekry. Met beide sy eerste en tweede spronge het hy oor die lyn getrap wat die spronge gediskwalifiseer het. Hy het slegs een sprong oorgehad om nie sy kans vir ʼn vierde goue medalje te verbrou nie.

Al die Duitsers se oë was op Luz gerig. Sou hy vir hulle ʼn goue medalje wen? Met elke sprong wat Jesse verbrou het, het Luz ʼn groter kans gestaan. Net voordat Jesse sy laaste sprong sou aanpak, het die stadion meteens stil geword toe Luz die ondenkbare doen. Voor ʼn paar duisend mense het hy na Jesse gestap en sy arm om hom geplaas.

Luz kon sien die skare se vyandigheid veroorsaak dat Jesse sukkel om te konsentreer. Hy het na Jesse oorgeleun met die woorde: “Jesse, kalmeer. Die kwalifiserende afstand is slegs 23 voet (7 m) en jy spring met gemak 26 voet (7,9 m). Skuif jou merker waar jy wegspring 3 cm terug sodat jy nie weer oor die lyn trap nie.” Jesse het Luz se raad gevolg. Met die volgende sprong het hy gekwalifiseer en later daardie dag nie net sy vierde goue medalje verwerf nie, maar ook ʼn nuwe wêreldrekord opgestel.

In ʼn onderhoud ná die Spele het Jesse gesê selfs al word al die goud van sy medaljes gesmelt, dit nooit die waarde van Luz se vriendskap in daardie oomblik van nood sal kan ewenaar nie. Luz het sy selfsugtige belange opsy geskuif en ʼn ander se lewe beter gemaak. Alhoewel die twee mans mekaar nie weer na die Spele gesien het nie aangesien Luz in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het, is ʼn vriendskap tussen die twee gesmee wat Jesse nooit sal vergeet nie.

Elke jaar op 18 Julie vier ons Mandela-dag. Dan fokus Suid-Afrikaners vir 67 minute daarop om ʼn verskil in iemand se lewe te maak. Tog, waarom net dié een dag? Hoekom maak ons nie hierdie beginsel daagliks deel van ons lewens nie? In Spreuke 19:17 lees ons: “Wie hom oor ʼn arm mens ontferm, gee ʼn lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.” In Spreuke 21:13 lees ons: “As jy jou ore sluit vir die hulpgeroep van ʼn arm mens, sal jý ook nie antwoord kry as jý roep nie.” En in Matteus 25:40 sê Jesus: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”

Die geheim tot ware geluk is om verby jou eie selfsugtige behoeftes en begeertes te kyk en ander mense se lewens te verbeter. As jy hierdie beginsel deel van jou lewe maak, is daar geen perke op wat God in en deur jou lewe kan vermag nie! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS