Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 12

Leef gelukkig … met vertroue op God

Bybelteks(te)

PSALMS 46

11Bedaar en erken dat Ek God is,

hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

12Die Here, die Almagtige, is by ons,

die God van Jakob is vir ons 'n beskutting. Sela

PSALMS 46:11-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hier volg ʼn uittreksel uit ʼn e-pos van Johan Oosthuizen, ʼn Vers-ʼn-Dag-leser uit Kazakstan, in reaksie op Dag 11 (die vorige dagstukkie wat ons daaraan herinner dat God se gedagtes nie ons sʼn is nie):

Johan: “My stiefpa, vir wie ek baie lief was, het ʼn tyd gelede ernstig siek geword en is in die hospitaal opgeneem. Terselfdertyd het ʼn buitelandse prediker spesiale dienste by ons kerk gelei. Een aand ná afloop van die kerkdiens het die prediker ʼn uitnodiging gerig aan alle siekes in die gehoor (of diegene wat vir ʼn siek geliefde wou instaan) om na vore te kom sodat hy vir ons kon bid. Ek het dadelik namens my stiefpa vorentoe gegaan.

Die prediker het vir almal voor my in die ry gebid. Toe hy by my kom, het hy egter nie vir my gebid nie, maar na die persoon langs my beweeg. Ek is teleurgesteld huis toe. Toe ek by die huis kom, het ek ʼn oproep van my ma gekry met die hartseer nuus dat my stiefpa aan ʼn hartaanval gesterf het.

Ek is die volgende aand terug kerk toe. Ná afloop van die diens het ek die prediker gevra hoekom hy nie die vorige aand vir my gebid het nie. Hy het geantwoord dat God aan hom gewys het dat my stiefpa ernstig siek was. As hy vir hom sou bid, sou my stiefpa leef, maar dan sou hy later ʼn veel erger dood sterf. In die nadoodse ondersoek het ons uitgevind dat my stiefpa kanker gehad het. Hy is nooit daarmee gediagnoseer terwyl hy nog geleef het nie. God het hom dit dus gespaar.

Ek het opnuut besef dat God almagtig is. As Hy soms nie ons gebede beantwoord nie, is Hy heel moontlik besig om ons te beskerm!”

Johan is reg. God weet altyd die beste. Ons vind dit ook in koning Hiskia se lewe. Hiskia was ʼn gelowige en godvresende man wat in die bloeitydperk van Juda geregeer het. In 2 Konings 18 lees ons dat hy ernstig siek geword het. Op sy sterfbed smeek hy dat God nie sy lewe sal beëindig nie. God verhoor sy gebed en verleng sy lewe met 15 jaar.

Dit klink aanvanklik wonderlik – totdat ons sien wat in daardie 15 “ekstra jare” in Hiskia se lewe gebeur. Trots kry ʼn houvas op sy lewe toe hy by die Babiloniërs met sy weelde en besittings spog, en vergeet dat dit ʼn genadegawe uit God se hand is. Ook is Hiskia se seun, Manasse, gebore. Manasse het later ʼn bose koning geword wat diep by die okkulte betrokke was en groot straf oor die volk gebring het. Sou Hiskia beter af gewees het as sy lewe nie verleng is nie? Heel moontlik, ja.

Waarvoor smeek jy God vandag? Soms moet ons onsself aan die woorde in Psalm 46:11-12 herinner: “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ʼn beskutting.”

Wil jy nie ook vandag bedaar en op God vertrou nie? Hy is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde. Moet dus nie probeer om ʼn deur oop te skop nie. Buiten dat jy jou voet gaan beseer, mag jy heel moontlik nie hou van wat aan die ander kant van die deur is nie. Vertrou eerder op God. Hy ken die toekoms en wil jou ook beskerm. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS