Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 11

Leef gelukkig … in God se genade

Bybelteks(te)

EFESIËRS 6

12Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

EFESIËRS 6:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 55

8My gedagtes is nie julle gedagtes nie,

en julle optrede nie soos Myne nie,

sê die Here;

9soos die hemel hoër is as die aarde,

so is my optrede verhewe bo julle optrede

en my gedagtes bo julle gedagtes.

JESAJA 55:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KORINTIËRS 12

9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

2 KORINTIËRS 12:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

[AGTERGROND: Hier volg ʼn uittreksel uit ʼn leser se e-pos wat ek op ʼn keer ontvang het: “Benescke, dit is wonderlik om te hoor van gebede wat verhoor is. Tog, my man was ʼn alkoholis en vir agt jaar baie siek voordat hy gesterf het. Ek het baie gebid vir sy genesing aangesien ek nie ons twee kinders sonder ʼn pa wou grootmaak nie. Hoekom het God nie my gebede verhoor nie?”]

Ek dink die kernvraag hier, is dít: Hoekom laat ʼn goeie God toe dat slegte dinge met goeie mense gebeur? Hoekom beantwoord Hy sommige mense se gebede en ander sʼn skynbaar nie? Ons kan ook byvoeg: Hoekom is daar soveel natuurrampe wat mense se lewens vernietig? Hoekom verhoed God nie dat kindermolesteerders of moordenaars met hulle bose dade voortgaan nie? Of hoekom is daar soveel arm mense wat op straat woon?

Die vrae is eindeloos en daar is geen maklike antwoorde daarop nie. Wat ons egter moet onthou is dat ons daaglikse stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose geeste in die lug (Efesiërs 6:12). Die vyand se strategie is om ons seer te maak en ons lewens te verwoes, en ons dan te oortuig dat dit God was sodat ons Hom daarvoor blameer. Die waarheid is egter: God is liefde en dit breek sy hart om te sien dat ons seerkry. Hy hou ons te midde van elke storm styf teen sy bors vas en soms gebruik Hy selfs ons grootste seer om ons nader aan Hom te trek en sy liefde die duidelikste aan ons te demonstreer.

In Jesaja 55:8-9 sê God: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” En in 2 Korintiërs 12:9 skryf Paulus dat hy God drie keer gevra het om ʼn doring in sy vlees weg te neem. God se antwoord was egter: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

God se genade versterk ons en dra ons deur elke storm in ons lewens. Of jy dus ʼn moeilike huwelik het, ʼn siek geliefde by die huis, ʼn klomp geld verloor het, sukkel om ʼn verslawing te oorkom, ʼn uitdaging in die werkplek het of dalk soos die bogenoemde leser ʼn gebroke hart en baie vrae het, weet vir seker dat God aan jou die genade en krag sal gee wat jy benodig om jou situasie te hanteer. Iets sal nooit jou pad kruis as Hy weet jy sal dit nie kan hanteer nie.

Soms moet ons vir ʼn oomblik ophou vrae vra en glo dat God in beheer is. Sy genade is vir jou genoeg. Hy kan alles in jou lewe ten goede laat meewerk as jy Hom liefhet. Onthou, in die storm leer ken ons Hom soms die intiemste. Wil jy nie ook vir ʼn slag net stil in sy teenwoordigheid wag nie? Sy beste vir jou is dalk net om die draai! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS