Bible Society of South Africa

Kersfees – Dag 2

Het ons Kersfees deur ons vingers laat glip?

Bybelteks(te)

Die geboorte van Jesus Christus

18Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus.

Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. 19Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. 20Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:

23“Die maagd sal swanger word

en 'n Seun in die wêreld bring,

en hulle sal Hom Immanuel noem.”

Die naam beteken God by ons.

24Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. 25Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.

MATTEUS 1:18-25AFR83Maak oop in die Bybelleser

Kersfees is seker die gewildste, mees gevierde, mees algemene, mees omvattende Christelike fees op aarde. Tog het dit vir talle die minste geestelike betekenis met die meeste sentiment met die soetste kinderherinneringe en waarskynlik die grootste mate van sinisme daaraan verbonde. Winkels kan nie wag om munt te slaan uit die gees van vrygewigheid met al die geskenke wat daarmee saamgaan nie. In sommige lande spring kersbome soos kakiebos op pas ʼn week na “Halloween” terwyl die klanke van “Jingle Bells” en “Rudolph” met sy rooi neus nie kan wag om in die gange van elke inkopiemekka te weergalm nie.

“Maar,” hoor ek sommige sê, “is dit nie wonderlik dat mense van alle oortuigings – godsdienstig of nie – herinner word aan die waardes waarvoor Jesus gestaan het nie? Vrede, vredeliewendheid, die eenheid van die mensdom, en natuurlik die gawe van gee. Dis tog waaroor die gees van Kersfees gaan, nie waar nie?” (ʼn Tydige hersiening van waarvoor Christus “gestaan” het sal nie onvanpas wees nie.)

Ek wil nou nie die “Grunch” wees wat Kersfees gesteel het nie, maar ek moet darem net noem dat Kersfees nie net ʼn allemansfees is nie! Dis ʼn Christusfees wat gaan oor die geboorte van Jesus – die koms van God na die aarde om aan die redding van die mensdom vlees te gee. Dalk is dit tyd om sentiment opsy te skuif en Kersfees te red uit die hande van diegene wat dit beskou as blote volksverhaal of die wat dit graag vier as ʼn sentimentele reis na ʼn vergete kindertyd of om dit “ter wille van die kinders/kleinkinders te te vier”. Ja, soms voel dit inderdaad asof Kersfees besig is om deur ons vingers te glip met die boodskap van Christus se geboorte heeltemal vergete.

Wat van my? En jou? In plaas daarvan om te verdedig met “dis nie hoe óns dit doen nie” moet ons nie liewer vra: “Wat doen ek of wat doen jy en jou gesin/familie om die herinnering aan die nag toe hemel en aarde mekaar aangeraak het – toe die Ewige uitgereik het na die aardse om ons van sy oneindige en ewige liefde te verseker – lewend te hou. Kom ons vier Advent deur ons voor te berei om God Immanuel – God wat uitreik na ons – te ontmoet. Wat ʼn wonderlike Kersfees sou dit nie wees nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS