Bible Society of South Africa
Neville Turley

Juwele uit die Psalms – Dag 9

ʼn Opdrag van God

Bybelteks(te)

11Bedaar en erken dat Ek God is,

hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

PSALMS 46:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Tussen al die waardevolle juwele in die skatkis van die Psalms lê ons teksvers vir vandag. Veral die eerste deel, “Bedaar en erken dat Ek God is,” lê vir baie mense na aan die hart.

Deur die eeue was Psalm 46 vir baie gelowiges ʼn bron van krag en inspirasie. Martin Luther het onder andere die lied “ʼn Vaste burg is onse God” op hierdie psalm gebaseer.

Al is die wêreld in chaos en voer die nasies oorlog, is die Here die Almagtige altyd by ons. Hy is vir ons ʼn toevlug en beskerming en altyd bereid om ons te help in nood.

Die psalmdigter vertrou volkome op die krag van God. Die aarde mag wankel, maar daar is net een beskutting, een Rots, die Here die Almagtige. Hy is die enigste sekuriteit wat ons benodig. Selfvertroue in ons eie vermoëns om vir onsself te kan voorsien, is slegs ʼn bewonderenswaardige eienskap as ons in ons beplanning die Here nie buite rekening laat nie.

Soms word die woord “bedaar” misverstaan – mense dink dat dit slegs beteken dat ons kalm moet wees en op dit wat gesê word moet fokus. Dit het egter ʼn baie dieper betekenis. Dit is ʼn goddelike opdrag: Stop waarmee jy besig is “en erken dat Ek God is.”

Ongelukkig moet ons soms eers ʼn groot terugslag, ʼn skielike tragedie of ʼn ernstige operasie deurgaan om ons die werklikheid te laat besef. Ons moet egter nie wag vir ʼn krisis om ons te laat bedaar om te erken dat die Here God is nie. Daar is nie ʼn beter oomblik as juis nou nie.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS