Bible Society of South Africa
Neville Turley

Juwele uit die Psalms – Dag 10

Wie mag die Here aanbid?

Bybelteks(te)

Wie het die reg om in die tempel te kom?

1'n Psalm van Dawid.

Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here?

Wie mag op u heilige berg vertoef?

2Die Here is groot!

Aan Hom kom al die lof toe

hier in die stad van ons God,

hier op sy heilige berg,

3mooi, hoog geleë, en 'n vreugde vir die hele aarde,

Sionsberg teen die noorde,

die stad van die Groot Koning.

PSALMS 48:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dawid vra hier vir die Here wie het die reg om in sy teenwoordigheid te kom en wie mag saam met Hom op sy heilige berg vertoef.

Berge, met hulle grootsheid en prag, hou vir die meeste van ons ʼn bekoring in. Hulle domineer die horison en laat ons hemelwaarts kyk. In die Bybel is dit dikwels die plek waar God met sy uitverkore boodskappers ontmoet.

Dit was op die Sinaiberg waar die Here die tien gebooie aan Moses oorhandig het.

Dit was ook op ʼn hoë berg waar Petrus, Jakobus en Johannes in die teenwoordigheid van Moses en Elia die verheerliking van Jesus aanskou het.

In die Bybel word Sionsberg as God se heilige berg beskryf. Sion was ʼn bergvesting in Jerusalem wat deur koning Dawid verower is. Dawid het daar gaan woon en dit sy hoofstad gemaak. Later het hy die ark daarheen geneem en dit in ʼn tent geplaas waarheen mense gegaan het om God te aanbid. Die mense het Sionsberg eerbiedig. Dit was die plek waarheen pelgrims van oor die hele land gereis het om met God te ontmoet.

Die Bybel beskryf op ʼn pragtige wyse die plek wat Sionsberg in die harte van die gelowiges gehad het: “Die Here is groot! Aan Hom kom al die lof toe hier in die stad van ons God, hier op sy heilige berg, mooi, hoog geleë, en ʼn vreugde vir die hele aarde, Sionsberg teen die noorde, die stad van die Groot Koning” (Psalm 48:2-3).

In Psalm 15 verduidelik Dawid, na sy mening, wat die Here verlang van diegene wat Hom wil aanbid – hulle moet onberispelik wandel, doen wat reg is, altyd die waarheid praat en nie kwaad praat nie.

Dit is ʼn wonderlike gedragskode om na te streef. Ongelukkig kan nie een van ons dit reg kry nie al probeer ons ook hoe hard. Dit is die verskriklike waarheid.

Prys die Here vir Jesus Christus! Alhoewel ons dit glad nie verdien nie, het Hy sy lewe aan die kruis vir ons gegee. Dit maak nie saak waaraan ons skuldig is nie, as ons waarlik berou het en sy genade soek, sal Hy ons sondes vergeef. Slegs dan sal ons God se onvoorwaardelike liefde ervaar en kan ons waarlik in sy teenwoordigheid wees.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS