Bible Society of South Africa
Neville Turley

Juwele uit die Psalms – Dag 5

Sy woord bring lig

Bybelteks(te)

105U woord is die lamp wat my die weg wys,

die lig op my pad.

PSALMS 119:105AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit is ʼn lig wat ons almal nodig het om ons op die lewenspad te lei. Stel jou voor, dit is meer as 200 jaar gelede en jy woon in ʼn Christenhuis in Wallis. By die kerk en in die Sondagskool hoor jy die blye boodskap van God se liefde vir jou – hoe sy Seun, Jesus Christus, vir jou gesterf het.

Jy is in die skool en jou leesvaardighede verbeter al hoe meer. Jy wil so graag die Bybel self lees. Jy weet daar is ʼn Bybel in Wallies, maar jy weet ook Bybels is baie skaars en jou gesin kan nie een bekostig nie. En tog smag jy na ʼn Bybel van jou eie. Jy begin om regdeur jou tienerjare te spaar. Toe jy 16 word, stap jy 40 kilometer van jou dorpie na die naaste groot dorp met die naam Bala.

Daar ontmoet jy ʼn predikant wat so geraak word deur jou soeke na ʼn Bybel, dat hy een van sy eie Bybels vir jou gee. Hierdie is die ware verhaal van Mary Jones.

Later, tydens ʼn predikantevergadering in Londen, vertel hierdie predikant van sy ontmoeting met Mary Jones en hy pleit vir Bybels vir Wallis. Een van die ander predikante roep toe uit: “Indien ons dit vir Wallis doen, hoekom nie vir die hele wêreld nie!” Dit het gelei tot die stigting van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) op 7 Maart 1804. Die taak van die BBBG was om Bybels te vertaal en te druk met die doel om bekostigbare Bybels te versprei.

Op daardie stadium was die volledige Bybel in slegs 40 tale beskikbaar. Sedertdien skyn die lig van God se Woord regoor die wêreld. Die volledige Bybel is nou in honderde tale beskikbaar en meer as 2 000 tale beskik oor ten minste een Bybelboek in hulle taal.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) het verseker dat die volledige Bybel sedert November 2012 in al 11 ons amptelike tale beskikbaar is. Versprei die Bybel en laat die lig van sy woord ook vir ander die lig op hulle pad wees.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS