Bible Society of South Africa
Neville Turley

Juwele uit die Psalms – Dag 18

Sing tot eer van die Here

Bybelteks(te)

16Dit gaan goed met die volk

wat kan jubel tot u eer,

wat in u lig lewe, Here.

PSALMS 89:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.

KOLOSSENSE 3:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.

KOLOSSENSE 3:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Waar is dit vir jou die lekkerste om te sing? In die kerk, by ʼn konsert, ʼn sportgeleentheid of in die stort? Ons hou van sing want dit help ons om uiting te gee aan ons innerlike emosies.

Liedere is al sedert Bybelse tye deel van aanbidding. Reeds in Eksodus 15:1 lees ons dat Moses en die Israeliete tot eer van die Here gesing het en in Eksodus 15:21 is die lied van Mirjam vir ons aangeteken.

Die Psalms is grootliks lofliedere. Ons juweel vir vandag wys daarop dat dit goed gaan met die mense wat tot eer van die Here sing. Dit gaan goed met hulle want hulle leef in die lig van die Here.

Gewyde liedere kan baie bemoedigend wees, veral wanneer dit saam met ander gesing word. Is dit enigsins moontlik om nie meegevoer te word deur Händel se Halleluja-koor uit
“Die Messias” wanneer dit, veral in die paastyd, uitgevoer word nie? Stromingsdienste (soos Spotify) maak dit selfs moontlik vir mense wat alleen of in afgeleë plekke woon om die Here deur sang en musiek te loof en prys.

Ons moet nooit vergeet waarom dit met ons goed gaan en waarom ons gelukkig is nie. Paulus, wat in kettings geboei was in die tyd wat hy hierdie brief aan die Kolossense geskryf het, en alle rede gehad het om ongelukkig te wees, verduidelik dit so mooi: “Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees (…) Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing” (Kolossense 3:12,16).

Aangesien ons weet dat die boodskap wat Paulus hier oordra ook op ons van toepassing is, is dit rede genoeg om tot eer van die Here te sing en te jubel waar ons ons ook al bevind.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS