Bible Society of South Africa
Neville Turley

Juwele uit die Psalms – Dag 13

Van God met liefde

Bybelteks(te)

Sy liefde vir ons is sterk

1Prys die Here, alle nasies,

loof Hom, alle volke,

2want sy liefde vir ons is sterk,

aan die trou van die Here is daar geen einde nie!

Prys die Here!

PSALMS 117:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

3Ek sal seën wie jou seën,

en hom vervloek wat jou vervloek.

In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”

GENESIS 12:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die evangelie is vir alle mense

7Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. 8Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode 'n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. 9Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan:

“Daarom sal ek U loof voor die nasies,

en tot eer van u Naam sal ek 'n lofpsalm sing.”

ROMEINE 15:7-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

11En:

“Prys die Here, alle nasies!

Loof Hom, alle volke!”

ROMEINE 15:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

JOHANNES 3:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie juweel is die kortste van al die Psalms en ook die kortste hoofstuk in die Bybel, maar die trefkrag daarvan ken geen perke nie. Dit is ʼn oproep tot alle volke, en tot jou en my, om die Here te prys.

Dit was nooit God se bedoeling om sy kinders tot net een nasie of volk te beperk nie. God het dit reeds duidelik gemaak toe Hy Abraham geroep en beloof het: “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees” (Genesis 12:3).

Paulus, wat noem dat Jesus Christus in sy genade vir hom die voorreg gegee het om onder die heidennasies te werk, haal hierdie psalm aan in Romeine 15:11 in sy pleidooi aan die Joodse Christene in Rome om die heidene te aanvaar: “Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode ʼn dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik …” (Romeine 15:7-9).

Vandag voel baie mense steeds asof niemand hulle liefhet of vir hulle omgee nie. Baie mense is eensaam. Psalm 117 is ʼn persoonlike uitnodiging van die Here aan hulle en ook aan ons almal. Ons is die kinders van God se genade en van sy belofte.

“God se liefde vir ons is so groot dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Johannes 3:16).

God het ons lief. Hy wil ons as sy kinders hê. Hy sal ons nooit verlaat nie want aan die trou van die Here is daar geen einde nie! Prys die Here!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS