Bible Society of South Africa
Neville Turley

Juwele uit die Psalms – Dag 14

Bly kalm en wees geduldig

Bybelteks(te)

6Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son,

jou reg soos die helder lig van die middag.

7Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou

en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie.

8Moenie kwaad word nie, laat staan die woede,

moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende.

PSALMS 37:6-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Op Menseregtedag in Suid-Afrika word die Verenigde Nasies (VN) se Universele Verklaring van Menseregte herdenk. Op hierdie dag word daar op menseregtesake gefokus.

Sedert sonde die wêreld binnegekom het, is daar ʼn stryd tussen goed en kwaad. Die kwaad word in alle menslike aktiwiteite aangetref, soms selfs in die raadsale van die hoogste gesag.

Ons hoor soms van despotiese leiers wat hulle mag misbruik, hulle lande in armoede laat verval en dan in sogenaamde ballingskap gaan woon met miljoene in buitelandse bankrekeninge.

Die geweld teen en misbruik van mense, veral vroue en kinders, raak ons harte diep en laat ons soms met alle reg baie kwaad word. Soms is die misbruik so afskuwelik en verskriklik boos dat ʼn mens brand om wraak te neem. Die psalmdigter waarsku ons egter daarteen om die reg in ons eie hand te neem want “dit bring net ellende.”

Die psalmdigter sê dat ons ons nie moet ontstel nie. Ons word aangemoedig om die woede te laat staan en in stilte op die Here te vertrou. Die Here neem sy eie tyd. Ons kan maar net op Hom vertrou want Hy is in beheer. Die kwaad sal oorwin word en geregtigheid sal uiteindelik seëvier.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS