Bible Society of South Africa
Neville Turley

Juwele uit die Psalms – Dag 12

Here, ek is so jammer

Bybelteks(te)

9Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees,

was my dat ek witter as sneeu kan wees.

11Moet tog nie ag slaan op my sondes nie,

wis al my skuld uit!

PSALMS 51:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

12Skep vir my 'n rein hart, o God,

vernuwe my gees en maak my standvastig.

13Moet my tog nie van U af wegdryf

en u Heilige Gees van my af wegneem nie!

14Laat my weer die blydskap ervaar

van iemand wat deur U verlos is,

laat my U weer met toewyding dien.

PSALMS 51:12-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Owerspel, ʼn moord word beplan, die slagoffer word vermoor, die baasbrein word met die aangeleentheid gekonfronteer, hy beken skuld en is vreeslik jammer. Hierdie klink soos ʼn tipiese nuusartikel in ʼn koerant wat ʼn Maandag in ʼn blou Maandag kan verander.

Die verhaal waarna ek hier verwys gaan egter nooit die hoofopskrifte haal nie, alhoewel die skuldige ʼn beroemde koning was. Dit het te lank gelede gebeur. Jy kan egter die volle verhaal in jou Bybel in 2 Samuel 11—12 lees.

Die koning waarna verwys word, was niemand anders as koning Dawid nie. ʼn Briljante en komplekse man wat deur die genade van God, Israel se grootste koning geword het.

Dit was Natan, die profeet, wat Dawid oor sy owerspel met Batseba en die moord op haar man, Urija die Hetiet, gekonfronteer het. Natan het ook vir Dawid vertel wat die gevolge van sy dade sou wees, al het die Here hom vergewe.

Dawid was so verneder en het so vuil gevoel as gevolg van die sonde wat hy gepleeg het, dat hy Psalm 51 gedig het. Psalm 51 is die geliefste juweel in my persoonlike skatkis uit die Psalms.

God het Dawid vergewe, maar Dawid het meer gerusstelling nodig gehad. Daarom het hy desperaat by God gepleit om hom skoon te was van skuld. Hy smeek dat God hom van sy sonde moet reinig: “… was my dat ek witter as sneeu kan wees (…) Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit!” (Psalm 51:9b,11). En dan ons teksvers vir vandag: “Skep vir my ʼn rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig”, en wat daarop volg.

Die Here het vir Dawid liefgehad en Hy het hom vergewe. Hy het Dawid bo alle verwagtinge geseën. Die sonde wat Dawid gedoen het, het God baie kwaad gemaak, maar tog het Hy hom vergewe. Steeds was Dawid radeloos en vol angs. Hy moes homself oortuig dat dinge tussen hom en God reg was.

Dawid was nie alleen in hierdie geval nie. Ons maak almal foute en struikel. Dit is dan wanneer dit nodig is dat ons ons eerstens tot ons hemelse Vader wend en sê: “Here, ek is jammer.” Eers dan kan ons dit wat ons verkeerd gedoen het, aanspreek. Dan kan ons onder leiding van die Heilige Gees in geloof en met vrede in ons siel aanbeweeg.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS