Bible Society of South Africa
Neville Turley

Juwele uit die Psalms – Dag 11

Wanneer ons bid

Bybelteks(te)

2Here, luister tog na my gebed,

hoor tog my geroep om hulp!

PSALMS 102:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

24U lei my met u raad

en aan die einde sal U my in ere by U opneem.

25Daar is niks in die hemel of op die aarde

wat vir my meer beteken as U nie.

26Al is ek afgetakel na liggaam en gees,

God is my sterkte;

aan Hom behoort ek vir altyd.

PSALMS 73:24-26AFR83Maak oop in die Bybelleser

11As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

MATTEUS 7:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

39Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

MATTEUS 26:39AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die juweel wat ons vandag uit die skatkis haal, glinster met trane. Dit is die klaaglied van ʼn hulpelose man wat ernstig siek is, erge stres ervaar en hom in ʼn vyandige omgewing bevind. Dit is ʼn gebed tot God vanuit ʼn hart wat swaarmoedig is.

Ons persoonlike omstandighede mag, in vergelyking met dié van die psalmdigter, miskien baie beter wees, maar in ons verhouding met die Here is ons gebede net so noodsaaklik soos syne.

Gebed is ʼn intens persoonlike interaksie tussen ons en God. Hoe meer ons bid, hoe nader beweeg ons aan God en hoe nader ons aan Hom kom, hoe sterker word ons verbintenis met ons Vader.

Hoe naby aan God is jy? Dit is ʼn vraag wat elke gelowige homself moet afvra.

Die skrywer van Psalm 73 is baie spesifiek oor sy verhouding met God: “U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem. Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. Al beswyk my vlees en my hart — God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid” (Psalm 73:24-26).

Verhoudings is afhanklik van die kommunikasie tussen mense. Deur gebed (ons kommunikasie met God) verdiep ons ons verhouding met die Here.

Gebed is in die eerste plek nie ʼn geval waar ons voor die troon van genade met ʼn bakkie in die hand staan en bedel nie. Deur gebed gee ons aan God die lof en eer wat Hom toekom. Die mens is gemaak om God te eer en as ons dit doen, vervul ons die werklike doel van ons bestaan.

Moet ons dan nie ons behoeftes aan God bekendmaak nie? Natuurlik moet ons. Jesus leer ons dat God ʼn liefdevolle Vader is wat na sy kinders luister: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matteus 7:11).

Ons gebedsversoeke word egter nie altyd beantwoord soos ons dit graag wil hê nie. Die woorde van Jesus toe Hy in Getsemane gebid het, moet soos ʼn goue draad deur ons gebede vleg: “… nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matteus 26:39b).

Ons weet nie altyd wat die beste vir ons is nie, maar die Here weet wel. Rus in sy wil.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS