Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 8

Die Heilige Gees gee 24/7 leiding

Bybelteks(te)

13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.

JOHANNES 16:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het eergister gekyk na die werk van die Heilige Gees ten opsigte van die wêreld. Vandag fokus ons op sy aktiewe betrokkenheid om 24/7 leiding te gee aan gelowiges: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig” (Johannes 16:13).

Die gelowige sal in die volle waarheid deur die Heilige Gees gelei word. Omdat Hy net praat wat Hy by die Vader hoor, sal Hy ons lei volgens die wil en karakter van God. Die waarheid hier ter sprake is die waarheid oor Christus en hoe dit ons totale menswees kan beïnvloed. As hierdie waarheid die spilpunt is waarom alles in ons lewens draai, begin ʼn lewenslange proses waar ons in elke situasie kan begin onderskei tussen reg en verkeerd, reg en onreg, goed of kwaad, en waar of vals. Die waarheid word dus vir ons ʼn vesting teen die leuen.

Ongelukkig is daar vandag so baie mense wat vreemde dinge leer en snaakse besluite neem in die Naam van die Heilige Gees wat hulle “lei” dat dit baie maklik is om verward te raak oor al die sogenaamde “waarhede.” Ons moet egter verstaan dat die Heilige Gees niks wat teenstrydig is met die woord van God aan enigiemand sal leer nie. Dit word baie duidelik in ons teksvers gestel: “Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.

Die Gees sal ook die toekomstige dinge aan ons verkondig. Aan die dissipels (en ons) was dit dinge soos die aard van hulle sending, die teenstand, vervolging en die uiteindelike resultate van hulle pogings. Hy het egter ook aan die skrywers van die Bybel openbaar dat redding nie deur die onderhouding van die Wet kom nie en gee riglyne hoe om die nuwe lewe in Christus te leef, en openbaar die vrug en gawes van die Gees waarvan Jesus gepraat het. Vandag skyn Hy steeds lig op die keuses wat ons lewens beïnvloed, op die woord sodat ons dit kan verstaan, en hoe Hy wil hê ons sy hande en voete op aarde moet wees – alles sodat die Vader en Jesus verheerlik word.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS