Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 6

Die Heilige Gees smee eenheid onder ons

Bybelteks(te)

3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

EFESIËRS 4:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

JOHANNES 14:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.

JOHANNES 14:26-27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe (Efesiërs 4:3).

Jesus bespreek twee belangrike sake in dieselfde gesprek met sy dissipels, naamlik die koms van die Heilige Gees en die geskenk van vrede wat Hy vir sy dissipels nalaat (Johannes 14:26-27). Die wêreld kan egter nie een van hierdie beloftes hul eie maak nie, want wêreldse vrede is nie van dieselfde aard as dié wat Jesus gee nie. Die wêreld kan ook nie die Gees ontvang nie omdat hulle Hom nie kan sien en ook nie ken nie (Johannes 14:17).

As die wêreld dus in vyandskap met mekaar leef, kan ʼn mens dit verstaan – daar is immers niks gemeenskaplik wat hulle kan saamsnoer nie. Aan die ander kant beskik die gelowige oor veel meer as ʼn samebindende faktor – die Heilige Gees, die derde Persoon in die Godheid, smee eenheid onder ons! (Efesiërs 4:3). Dit word moontlik gemaak omdat die gelowiges almal deel is van een liggaam – dié van Jesus Christus. Ons word deur een en dieselfde Gees bewoon, is geroep deur dieselfde geloof en hoop in die één God en Vader.

Maar dat hierdie eenheid onder ons verbreek kan word deur onmin is ook ʼn realiteit. Wat veroorsaak die onenigheid? Efesiërs 4:2 gee die antwoord: Ons onwilligheid om ons leefwyse in lyn te kry met die roeping wat ons van God ontvang het. Ons sukkel om mekaar met nederigheid, sagmoedigheid en geduld in liefde te verdra en soms wil ons ook nie. Ons vergeet dat niemand volmaak is nie en tog verwag ons dit van mekaar.

Die oplossing? Jy moet besef dat jy ook ʼn onvolmaakte mens is met wie ander mense ook soms ʼn probleem het. Betoon dieselfde genade as wat jy van hulle verwag: Wees geduldig met jou medegelowige se foute en swakhede en moenie gedurig daarop konsentreer nie. Begin hom of haar sien as ʼn reisgenoot op jou pad wat ook soos jy worstel met die “ek”, maar wat nogtans dieselfde inwonende 24/7 Metgesel het as wat in jóú woon. Verdra hom of haar met die liefde wat God deur sy Gees in jou hart uitgestort het.

Onthou, die Gees gebruik gelowiges om die eenheid wat Hy gesmee het te bewaar.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS