Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 5

Die Heilige Gees oortuig mense

Bybelteks(te)

JOHANNES 16

7Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. 8En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het. 9Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie;

JOHANNES 16:7-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 16

11die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel.

JOHANNES 16:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 12

31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe.

JOHANNES 12:31AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 14

30Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie,

JOHANNES 14:30AFR83Maak oop in die Bybelleser

“En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het” (Johannes 16:8).

Daar is

drie dinge wat die Heilige Gees, die Raadgewer, kom doen: Eerstens, om te bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde. Hierdie sonde is ongeloof in Jesus (Johannes 16:8) en daarom is daar geen sprake van ʼn verhouding met God en Raadgewer nie. Die wêreld se ongeloof bewys dus die erns van sonde – nie ʼn “sondelys” soos ons beweer nie. Maar ons geloof en die inwonende Heilige Gees maak ons instrumenteel om Jesus aan mense te verkondig deur ons getuienis en ʼn leefwyse wat Hom verheerlik. Maar uiteindelik bly dit die Heilige Gees wat mense oortuig van sonde en die belydenis daarvan.

Tweedens oortuig die Heilige Gees mense van geregtigheid, met ander woorde, van hulle “reg wees” of “vryspraak” van hul sonde as hulle in Jesus glo. Al is Jesus dus nie sigbaar teenwoordig nie omdat Hy by sy Vader is, is Hy tog in woord en krag teenwoordig. Omdat die Gees nou in ons as gelowiges woon en ons die woord as maatstaf vir die waarheid gebruik, kan ons instrumenteel wees om geregtigheid aan mense te verkondig en dit te demonstreer. Dit bly egter steeds die Heilige Gees wat mense oortuig.

Derdens sorg die Heilige Gees dat mense bewus word dat hulle onder dieselfde oordeel staan as hulle Baas, die Regeerder van hierdie wêreld (Johannes 16:11). Hy het sy magsposisie verloor met Jesus se koms aarde toe (Johannes 14:30) en Hy is buitentoe gedryf (Johannes 12:31). As ek en jy leef en optree vanuit die krag van die Heilige Gees in ons, word ons vir die wêreld ʼn eggo van hulle sonde van ongeloof; ʼn bewys dat daar wel ʼn nuwe lewe in Jesus is en dat oordeel die voorland is van enigiemand wat die Vader, Seun en Heilige Gees misken. Maar terselfdertyd word ons geloof, ons “regverdigheid” en “vryspraak” deur ons 24/7 Metgesel, die Heilige Gees, gebruik om ʼn beroep te doen op mense om hulle lewens te verander.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS