Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 4

Die Heilige Gees help ons vrug dra

Bybelteks(te)

16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees,

JOHANNES 14:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.

JOHANNES 14:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

2Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het 'n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal?

HANDELINGE 2:2-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

39Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”

HANDELINGE 2:39AFR83Maak oop in die Bybelleser

22en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos 'n duif op Hom neergedaal. Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

JOHANNES 15:5-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

18“Die Gees van die Here is op My

omdat Hy My gesalf het

om die evangelie aan armes te verkondig.

Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur,

Jesus se betrokkenheid by ons lewens stop nie by sy dood, opstanding of hemelvaart nie. Hy het immers ʼn belofte aan sy dissipels gemaak: “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe” (Johannes 14:18). Die belofte is duidelik wanneer Hy sê: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ʼn ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid” (Johannes 14:16). Hierdie belofte is vandag ook van toepassing op alle gelowiges. Kan jy dit glo? Ons het ʼn 24/7 Metgesel in die Heilige Gees!

Ons vier ook elke jaar Pinkster – daardie gebeurtenis kort na Jesus se hemelvaart waartydens die Heilige Gees op ʼn groep biddende en wagtende volgelinge uitgestort is. Daardie dag het ʼn geweldige rukwind die vertrek gevul en hulle het vuur gesien wat in tonge verdeel het en oor elkeen van hulle gekom het. Hulle is vervul met die Heilige Gees en het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het (Handelinge 2:2-8). Dit was tale wat hulleself nie geken het nie, maar wat deur die skare verstaan is! Dit was die beloofde gawe van God wat hulle bemagtig het.

Ons het die afgelope paar dae reeds gekyk na verskillende dinge wat die Heilige Gees in ons lewens doen. Die geweldige omvang, krag en seën van die Heilige Gees in elke gelowige se lewe is nie beperk tot ʼn tydperk in die kerkgeskiedenis nie, maar “Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep” (Handelinge 2:39).

Jesus is die voorbeeld van hoe die Heilige Gees 24/7 betrokke is in ons lewens deur in, by en op ons te wees. Jesus is deur die Gees verwek en die Gees in Hom het die vrug van goeie karakter voortgebring. In Lukas 3:22 en Lukas 4:18 daal die Gees oor Jesus om die evangelie te verkondig.

Ons gees is ook deur die Heilige Gees verwek of lewend gemaak deur die wedergeboorte. Hy maak dit daarna ook vir ons moontlik om die goeie en blywende vrug te dra omdat Hy dan in ons woon. Dit is Hy wat ons in staat stel om dié vrug te kan dra, maar dan moet ons in Hom bly (Johannes 15:5-6). Verder is ons ook afhanklik van die Heilige Gees se bekragtiging om op effektiewe maniere aan mense te vertel dat Jesus se dood en opstanding die mens red.

Mag die volheid van die Heilige Gees vir jou ʼn werklikheid wees in jou lewe. Hy is immers die derde Persoon in die Godheid wat gekom het om in en by jou te woon.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS