Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 3

Die Heilige Gees help ons onthou

Bybelteks(te)

26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

JOHANNES 14:26AFR83Maak oop in die Bybelleser

22Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.

Jesus ken die mens

23Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen.

JOHANNES 2:22-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die laaste drie dae praat ons oor die Heilige Gees wat 24/7 die lewenspad saam met ons loop. Hy leef ook in ons. Ons weet dat Hy ons “weeskindskap” na Jesus se hemelvaart beëindig het, maar wat dóén die Heilige Gees in ons lewens?

Ons weet dat die Heilige Gees, net soos in die antieke wêreld, die rol vervul van iemand van ʼn hoër gesag – iemand wat jou ondersteun, jou leer hoe om op te tree en selfs hulp in hofsake verleen. So ʼn persoon was ʼn parakleet genoem: ʼn trooster, bemiddelaar, helper, advokaat, en raadgewer.

In ons teksvers word die rol van raadgewer uitgelig: “… en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het (Johannes 14:26).

Let mooi op wat die tweede gedeelte van die teksvers impliseer: Die Heilige Gees sal hulle slegs herinner aan wat Jesus vir hulle gesê het. Met ander woorde, wat hulle Hom gehoor sê het (in ons geval wat ons in die Bybel lees). As ons dus nie die woord gereeld lees en “hoor” watter waarhede Jesus beklemtoon nie, is daar niks waaraan die Heilige Gees ons kan herinner nie. Hy grawe uit ons geheue die inligting wat ons “gehoor” of “gelees” het, maar dikwels vergeet het. Hy plaas dit dan in ons bewussyn sodat ons dit kan onthou. ʼn Voorbeeld hiervan is Jesus se dissipels wat eers na sy dood onthou het wat Hy werklik bedoel het met die tempel wat afgebreek en in drie dae opgebou sal word: “Met ‘hierdie tempel’ het Hy egter sy liggaam bedoel” (Johannes 2:22-23).

Dis eers wanneer ons onthou wanneer ons daaruit kan leer. In die bogenoemde voorbeeld was die dissipels se les dat hulle skielik onthou het en “die Skrif en die woorde van Jesus geglo [het]” (Johannes 2:23). Die probleem is egter dat ons nie altyd die insig en wysheid het om die volle betekenis van die inligting wat ons onthou te verstaan en toe te pas in ons lewens nie. En dít is waar die Heilige Gees tot ons hulp kom.

Die Heilige Gees versterk en maak ons geloof in die Here en sy woord vas; Hy leer ons om ons nuutgevonde kennis in dade te omskep en om te leef soos Hy wil hê ons moet leef. Maar meer nog, Hy leer en lei ons in die volle waarheid en nie in verdraaide, selfgeïnterpreteerde opvattings nie. Hy is voorwaar die 24/7 Parakleet – die een wat geroep is om ons te help.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS